PRINS ALBERT NUUS - Alle boekpaaie lei volgende week na Prins Albert waar die agtste Leesfees van 25 tot 27 Augustus plaasvind.
Altesame 15 skrywers, ’n fotograaf, filmmaker en ’n sangeres gaan liefhebbers van die Suid-Afrikaanse letterkunde saamsnoer, met die ATKV en die Vriende van Afrikaans wat onderwysers, ouers en ander leesgieriges gaan toespreek oor die belangrikheid daarvan om ’n liefde vir lees by kinders te kweek.
Vanjaar vind hierdie gesogte driedagbyeenkoms, om leesentoesiaste die kans te gee om hul gunstelingskrywers te ontmoet, plaas in die NG kerksaal in die hoofstraat, sowel in die African Relish Restaurant waar die sangeres Madeleine Barnard gaan optree.
By Hoërskool Zwartberg doen die jeugboekskrywer Anzil Kulsen aanbiedings en by Prins Albert Primêr lees twee kinderboekskrywers voor uit hul werk. Kulsen bied ook ’n skryfkursus vir leerders aan.
Die groot oorweging vir die samestelling van die program was dat dit ’n “boekefees vir almal” moet wees, nie net wat die toeganklikheid van die aanbiedings betref nie, maar ook ten opsigte van die bekostigbaarheid, sê die voorsitter van die feeskomitee, Vanessa Botha. Vir die skrywersaanbiedings kos dit net R50 elk, maar ’n dagtoegangkaart teen R350 vir die Saterdag en van R150 vir die Sondag gee feesgangers gemaklik toegang tot alle boekbesprekings. Barnard se optrede, teen R150, sluit ’n ligte ete in.
Op die feesterrein sal daar kosverkooppunte wees, terwyl Bargain Books se George-tak die boekverkope hanteer. ’n Hele klomp gastehuise borg vanjaar die akkommodasie van die skrywers en hul metgeselle.
Drie Prins Albertse skrywers, die digter Daniel Hugo (Vers & Kapittel II) en twee kinderboekskrywers, Thana de Clerk (Juan en die bidsprinkaan) en Hanli Burger (Die reus van Groenberg), asook die bekende fotograaf van hier, Louis Botha (Karoo II), is op die spyskaart, met die Suid-Kaap wat sterk verteenwoordig is: filmmaker en regisseur Koos Roets (Boet se goet) en die historikus Eunice Visser (Die Kaapse slawe: ’n kultuurhistoriese perspektief) van Klaarstroom, Sidney Gilroy (Vlam) van Groot-Brak, Chris Karsten (Op pad na Moormansgat) van George, Alexander Strachan (Recce 1, 2 en 3), Sally Andrew (The Milktart Murders) van Ladismith, Frederik de Jager (Ver in die wêreld) van Stilbaai en Audrey Jantjies (As die katjiepiering blom) van Swellendam.
Die joernalis Julian Jansen (Moord op Stellenbosch) kom van Somerset-Wes, die skrywer en literêre ontleder Bettina Wyngaard (Jagter) van Grabouw, die romansier en digter Kobus Grobler (Die middag reën roet) van Blouberg en die akteur Lindie Stander (Agter my glimlag) van Langebaan.
Drie skrywers op die program het pas gehoor dat hulle benoem is vir die gesogte KykNET-Rapport-boekpryse: Eunice Visser (niefiksie), Karsten (fiksie) en Jantjies (fiksie – film).
Kaartjies is nou reeds by die biblioteek te koop, of stuur ’n e-pos aan reiniesmit@gmail.com met jou volle naam en kontakbesonderhede, plus al die aanbiedings wat jy wil bywoon, asook die totale bedrag verskuldig, om jou plek te bespreek.
Haal jou kaartjies dan betyds hier af, of vanaf 25 Augustus by die kerksaal waar jy kontant of per kaart kan betaal.
Vir meer inligting oor die fees, besoek die Prins Albert Leesfees, Facebook-blad.
Sindey Gilroy
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’