PRINS ALBERT NUUS - Die burgemeester van die Sentraal-Karoo-distriksmunisipaliteit (SKDM), dr Annelie Rabie (DA), is Woensdagaand by haar huis in die Prins Albertse hoofstraat aangeval.
Teen druktyd was meer besonderhede oor die aard van haar beserings, die tyd van die aanval, die presiese plek by haar huis en of die oortreder aan haar bekend was, nie bekend nie.
Die woordvoerder van die Prins Albert-polisie, sers. Nico April, het by navraag aan Oudtshoorn Courant gesê teen Donderdagoggend vroeg is nog geen klag gelê nie.
Rabie het Donderdagoggend vroeg ’n WhatsApp aan DA-kollegas en kennisse gestuur om die voorval bekend te maak.
“Die persoon het gekom om my seer te maak, want hy het my aangeval van agter terwyl ek op my foon gepraat het. Terwyl hy my geskop het, het hy herhaaldelik gesê ‘we will come for you’. My lyf is baie seer en volgens die dokter mag ’n rib of twee, drie in die slag gebly het. Hy het my vreeslik in my maag geskop toe ek probeer opstaan. Ek is baie seer vanoggend. Die belangrikste is dat ek dit onmiddellik in my kop moet verwerk sodat ek dit agter my sit.”
Rabie het by navraag gesê sy sal laat weet wanneer Oudtshoorn Courant haar kan besoek.
Dit kom op die vooraand van die besoek van Alan Winde, die DA se Wes-Kaapse premierskandidaat , aan Prins Albert. Inwoners van die dorp kan Winde, die provinsiale minister van gemeenskapsveiligheid, môreoggend (Vrydag) in die saal van die skouterrein ontmoet.
Vanaand (Donderdagaand) gee die DA-ampsdraers in die streek, Bokkie Geyer (LP), Rabie, Linda Jaquet, Stoffel Botes en Mark Steyn en (onderskeidelik onderburgemeester, speaker en raadslid van Prins Albert) die publiek hier kans om hulle van nader te leer ken. Dié byeenkoms is om 18:00 in die NG kerksaal.
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'