OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn Courant, 50 jaar gelede:
1969
Oudtshoorn kry vroeg in die jaar 1969 besoek van 'n vreemde walvis; damme word gebou; historiese geboue wat gesloop is, word met nuwes vervang; in die versengende hitte is die verbod op Sondagswem 'n tameletjie; water mag nie vermors word nie en daar is 'n interessante weervoorspeller in Albertina.
22 September
Die Sekondêre Skool Môrester se skoolhoof, mnr. FJ Raubenheimer, is skielik Maandag die 20ste Januarie om 9:00 in die hospitaal oorlede. Hy het Sondagoggend tuis inmekaargesak en is per ambulans na die hospitaal geneem waar hy nie weer sy bewussyn herwin het nie. Hy laat sy vrou, vyf seuns en 'n dogter agter.
Die tweede fase in die verbreding van Voortrekkerweg tot 'n dubbelpad, begin vanaf die burgersentrum in die rigting van De Rust. Van die huiseienaars se grond moet onteien word. Sommige gaan ernstig geraak word, maar eienaars sal vergoed word.
Hans Hopmeister van Albertina van Heideland is dwarsdeur die land bekend vir sy akkurate weervoorspellings. Landwyd word hy geraadpleeg. In die Oudtshoorn Courant sal daar nou 'n maandelikse weervoorspelling van hom verskyn. Hy raadpleeg die stand van die planete en die sterrebeelde. Die planeet Uranus en die sterrebeeld, die Weegskaal, lê tans vir die eerste maal in 180 jaar bymekaar met die planeet Jupiter in die nabyheid. Groot reëns word vir Februarie voorspel.
'n Bykomende poskantoortjie, ook 'n agentskap genoem, word vir Suid-Einde in die winkel van mnr. ASJ de Jager in Langenhovenstraat beplan. Poskantoordienste sal daar gelewer word. Die voorgestelde naam "Arbeidsgenot" sou later afgeskiet word.
25 Januarie
'n Vreemde advertensie verskyn: Jonas die reusewalvis op sy wêreldtoer kom die 28 tot 29 Jan na die oud-Seunskool vir besigtiging, kinders betaal 15c en volwassenes 30c. In 'n artikel ontvou die vreemde storie: Switserse wetenskaplikes het besluit om 'n fonds op te bou vir mariene navorsing. Na 6 maande se beplanning het Noorweegse walvisjagters 'n walvis (in Engels a finback whale) gevang. Die vis is 67 vt lank en weeg 116,000 lb en is in die Noordpool gevang. Binne 12 ure moes die karkas bewerk word. 7,000 l
bloed moes met 'n formalienoplossing vervang word. Sy lewer en tong, onderskeidelik 12 000 lb en 4 880 lb moes ondermeer uitgehaal word, verder moes die karkas met verkoelingspype soos 'n ribbekas in die liggaamsholte geïnstalleer word om sy temperatuur konstant te hou (1 lb = 450 g en 1vt =30.48 cm). Dié wat wou, kon in die verkoelde karkas inklim en tot by die stert vorder. Die karkas wat al ver gereis het, was die afgelope 6 maande deur Afrika, hierna vertrek hy na George. Die reusesleepwa beweeg teen 5 myl per uur op 'n gelykpad.
29 Januarie
Die Oudtshoorniete word gevra om water baie spaarsamige te gebruik. Die opvangsgebiede het wel reën gekry en beperkings is tans nog nie dringend nie, die dorp kry op die oomblik sy water uit die Klein Le Rouxrivier.
Willy Truter die hotelbestuurder van die Imperial Hotel sê hulle gaan hulle in Mosselbaai hervestig. Hy en sy vrou Rita het 10 en half jaar die dorp se bekende en imposante Imperial Hotel bestuur. Die hotel is deur Sanlam opgekoop en moet plek maak vir 'n OK Bazaars. 'n Onvervangbare historiese sandsteengebou verdwyn uit die dorp.
1 Februarie
Na vier jaar nader die Gamkadam voltooiing. Teen Augustus sal die dam begin water stoor. Die nuwe dam sal water kan voorsien aan die Gamkariviervallei en die periodieke vloedwater kan opvang en gestoor word.
5 Februarie
Die uitgrawings van Stompdrifdam se kanale na die aansluitingpunt by die Kammanassiedam is amper voltooi. Die uitsement van die kanale het tot verby Dysselsdorp gevorder. Die Stompdrifdam by De Rust se watervlak lê net onderkant die half.
Die eiendomsmark in Oudtshoorn en distrik beleef 'n boom. Grond wat kort gelede gekoop is, word kort daarna weer teen 'n hoër wins herverkoop. Die Imperial Hotel is vir R94 000 verkoop, so ook 'n plaas teen R136 000. Die sloopkoors en boukoors loop hand-aan-hand. Die nuwe Potgietergeboue in Kerkstraat en die Barclays Bank, vandag FNB-Bank, en voorheen die kerkkantore is amper klaar. Ook talle opvoedkundige geboue, soos Hoërskool Oudtshoorn, word opgerig, uitgebrei of beplan. Die sandsteenherehuis, Towers, moes plek maak hiervoor. Uitbreidings by Laerskool Noord (Laurus vandag) Laerskool Wesbank, die Tegniese Kollege (Hoërskool Gimnasium), die Handelskool (Suid-Kaap Kollege) en die Onderwyskollege (Weermag vandag) was geoormerk. Oudtshoorn is in 1969 'n sogenaamde vooruitstrewende dorp.
Die getwis oor swem of nie swem op Sondae bly voortwoed. Dit blyk dat die openbare swembaddens in die voorafgaande maande wel op Sondae vir die publiek gesluit is. Ds. Pienaar lewer 'n lang betoog in die Courant, briewe word gepubliseer vir en teen Sondagswem. Toeriste in die somerhitte van die Klein-Karoo is bitter ontevrede en selfs geskok oor die verbod. Op 6 Februarie sal die stadsraad weer oor die saak besin. Die twee partye hou asem op.
Die Potgieter-geboue word afgebreek.