OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-polisie het Maandag 17 Julie vyf verdagtes in hegtenis geneem in verband met die dood van Johan Korkee (47) wie se liggaam die oggend omstreeks 02:15 by die taxistaanplek in die middedorp gevind is.
Volgens Suid-Kaapse polisie-woordvoerder, sers. Chris Spies, dui die voorlopige ondersoek daarop dat polisiebeamptes gereageer het op 'n moontlike roof by die taxistaanplek waarna hulle die slagoffer met veelvuldige steekwonde gevind het.
"Die slagoffer is later deur paramedici op die toneel dood verklaar. Die ondersoek het beamptes na Bridgton gelei waar die vyf verdagtes in hegtenis geneem is. Elkeen staan nou tereg op aanklag van moord," sê Spies.
Volgens Spies is die verdagtes tussen die ouderdom van 13 en 25 en is hulle tans in aanhouding.
Hulle sou gister Woensdag, 19 Julie, teen druktyd, in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn. Hy voeg by dat 'n verslag rakende die nadoodse ondersoek om die oorsaak van die slagoffer se dood vas te stel deel uitmaak van 'n ondersoek.
Johanna Swarts, Korkee se tante, het vertel dat hy een van ses kinders was en dat beide sy ouers oorlede is.
"Johan was self sieklik en het tuberkulose gehad buiten probleme met sy longe, niere en maag. Een van sy susters het my vertel dat hy juis die dag op pad was van die hospitaal af nadat hy ontslaan is. Hy het net sy medikasie en 'n kliniekkaartjie by hom gehad. Ons dink hy het van die hospitaal af dorp toe gestap, maar is nie seker hoekom hy daardie tyd van die oggend by die taxistaanplek was nie," vertel sy.
Volgens Swarts het Korkee nie 'n vrou of kinders nie, maar is die familie tans in skok oor sy dood.
"Dit is veral 'n skok vir my omdat hy altyd na my toe gekom het. Selfs met al sy kwale en gesondheidsprobleme het hy oral gestap en gereeld by my 'n draai kom maak. Hy was 'n vredeliewende man en het nooit enige iemand benadeel of iets aangedoen nie. Hy was glad nie 'n moeilikheidmaker nie. Ek het geen idee hoekom iemand hom sou aanval nie," sê Swarts.
Korkee se dood is nou die 12de moord in die Groter Oudtshoorn-gebied binne ses maande.
Verwante artikel: 11 moorde in 6 maande
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’