Update
KAROO NUUS - Vyf mense, waaronder 'n kind, is Maandagoggend omstreeks 03:30 in 'n ongeluk op N1 tussen Laingsburg en Prins Albertweg dood.
Die botsing het sowat 17 km noord van Laingsburg plaasgevind. 'n Hyundai en 'n Datsun GO wat in teenoorgestelde rigtings onderweg was, het mekaar reg van voor getref.
Die vyf oorledenes was insittendes van die Datsun. Die pad was vir meer as ses ure vir verkeer gesluit en is daarna vir geruime tyd slegs vir eenrigtingverkeer oopgemaak terwyl forensiese spanne op die toneel was.
Volgens die provinsiale verkeershoof, Kenny Africa, was die oorledenes twee mans, twee vrouens en 'n kind. Die vier insittendes van die Hyundai het ernstige beserings opgedoen en van die slagoffers was in die voertuig vasgekeer. Volgens Africa het beide voertuie Kaapstad-registrasienommers.
Volgens Hein Rust, van Sentraal-Karoo rampbestuur, het die botsing slegs 12 kilometer verby 'n vorige botsingstoneel plaasgevind. Die vorige ongeluk het sowat 5 kilometer buite Laingsburg plaasgevind toe 'n vragmotor met 'n vrag meel omgeslaan het.
Die pad is gesluit terwyl die toneel opgeruim is en volgens Rust het mense wat op die toneel toegesak het om sakke meel in voertuie te laai verdere verkeersont-wrigting veroorsaak.
Sover vasgestel kon word is niemand in die vragmotor-ongeluk beseer nie.
Teen spertyd was die name van die oorledens in die Datsun GO nog nie amptelik deur die polisie bekend gemaak nie.
Die Datsun GO waarin vyf insittendes dood is.
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'