OUDTSHOORN NUUS - Altesaam 439 nuwe konstabels, wat hul basiese polisie-opleiding aan die Oudtshoorn SAPD Akademie suksesvol voltooi het, het verlede Donderdag tydens 'n parade by die De Jager-sportkompleks uitpasseer.
Lt.genl. Tebello Mosikili, nasionale adjunk-polisiekommissaris, was die geleentheidspreker en het ook die parade geïnspekteer.
Sy het die nuwe konstabels gelukgewens met die voltooiing van hul opleiding en gemaan om altyd nougeset te wees in die uitvoering van hul pligte.
Sy het ook hul instrukteurs bedank vir die harde werk wat hulle tydens die agt maande kursus ingesit het.
Volgens Mosikili het 'n totaal van 2 940 nuwe polisiekonstabels verlede week by die sewe polisie-akademies oral in Suid-Afrika uitpasseer.
Die nuwe lede sal volgens Mosikile verdere stukrag aan die polisie in die feestyd verleen en sal ook onder meer die polisie se sigbaarheid verbeter.
Die provinsiale kommissaris van Mpumalanga, lt.genl. Semakaleng Manamela het die nuwe konstabels gevra om altyd die gedragskode van die polisie in gedagte te hou en nie by korrupsie betrokke te raak nie.
Die nuwe konstabels sal by polisiekantore oor die land heen gestasioneer wees.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'