OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Ladismith wat van moord, verkragting en verbreking van 'n beskermingsbevel aangekla word, het Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof 'n vierde kans gekry om 'n ander regsverteenwoordiger te kry nadat sy derde regshulpprokureur hom aan die saak onttrek het.
Streeklanddros LA Wilkens het die saak teen die 38-jarige Willem Botha, op versoek van die staatsaanklaer, Hyron Goulding, voorlopig tot vandag (18 Augustus) uitgestel nadat Botha nie sy erkennings wou bevestig nie.
Sy regshulpprokureur, Eugene Roos, het hom hierna aan die saak onttrek.
In 'n pleitverduideliking wat Roos aan die hof voorgelees het, erken Botha dat hy die 37-jarige Sarah January gewurg en verkrag het. Hy het haar met 'n groot klip teen die kop gegooi sodat sy hom nie by die polisie kon gaan verkla nie.
In sy pleitverduideliking pleit hy onskuldig op die aanklag van moord, maar skuldig op 'n alternatiewe aanklag van strafbare manslag en skuldig aan verkragting en die verbreking van 'n interdik wat Ella Prins teen hom verkry het, deur haar aan te rand en te wurg.
Goulding het dit aan Botha gestel dat hy lewenslange gevangenisstraf vir verkragting sowel as moord in die gesig staar, en hy het sy misnoeë oor die vierde uitstel van die saak uitgespreek.
Volgens Goulding verander Botha elke keer van regsverteenwoordiger terwyl staatsge-
tuies vanaf Ladismith na Oudtshoorn moet reis en onverrigtersake moet terugkeer.
Die saak is uitgestel om Botha weer 'n geleentheid te gee om 'n nuwe regshulpprokureur te kry.
ARTIKEL: GARNETT WICOMB
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'