OUDTSHOORN NUUS - Twee Oudtshoorniete, Zac Lipschitz en André le Roux wat verlede naweek in Mosselbaai aan die modelvliegtuigkompetisie deelgeneem het, was onderskeidelik eerste en tweede. Jaco Botha van Mosselbaai was in die derde plek.
Die kompetisie is as deel van die Mosselbaai Sport- en Rekreasiefees by die St Blaize Aeroklub aangebied met 25 inskrywings. Deelnemers van Oudtshoorn, George en Mosselbaai het met hul vliegtuie en helikopters maneuvers gedoen en om pryse en medaljes meegeding.
Ruben De la Rouviere van George is slegs agt jaar oud en vlieg nog net vier maande, maar neem reeds aktief deel onder die bekwame leiding van sy instrukteur, Tinus Malan.
Dit is verblydend om te sien dat jong mense die sport ontdek en persone wat belangstel om deel te raak word uitgenooi na byeenkomste.
Ruben en sy boetie Simeon De la Rouviere by hulle Super Stik modelvliegtuigie waarmee hulle pret gehad het Saterdag. Foto: Tersia Marais
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'