Só vertel Marise Oberholzer, projekbestuurder by die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) en koördineerder van die kongres. Onderwysers kon kies om aan werksessies deel te neem in die Seniorfase (graad 8 tot 9) of die VOO-fase (grade 10 tot 12).
Die tema van die kongres, wat deur die SBA aangebied is, was "Woeker met Wiskunde" en het op hoërskoolwiskunde-onderwysers gefokus. Volgens Danie van Wyk, uitvoerende hoof van die SBA, bestaan die kommer dat verskeie matrikulante steeds met basiese konsepte sukkel en dat onderwysers ook soms sukkel om meer ingewikkelde konsepte aan hul leerders oor te dra. `n Groep van 110 Wiskunde-onderwysers van oor die Wes-Kaap heen het die kongres bygewoon.
Beide Van Wyk en Oberholzer beskryf die eerste kongres as "`n groot sukses."
Van Wyk het vertel dat hulle reeds Maandagoggend, met hul terugkeer op kantoor e-posse van waardering en gelukwensing ontvang het van onderwysers. "Vanuit `n administratiewe oogpunt was dit baie suksesvol. Ons het goeie samewerking gekry van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) en ons borge." Van Wyk het ook vertel dat die kongres voortaan jaarliks op die dorp sal plaasvind. "Die datum vir volgende jaar se kongres is reeds deur die WKOD vasgestel en Oudtshoorn-munisipaliteit het hul fasiliteite weereens beskikbaar gestel." Van Wyk vertel dat die volstruisdorp voortaan as die sentrum vir Wiskunde in die Wes-Kaap bekend moet staan.
Oberholzer vertel dat die kongres `n praktiese benadering tot Wiskunde-onderrig gevolg het. "Ons het op vakinhoud gefokus, byvoorbeeld die nuwe aspekte van graad 10 Wiskunde-onderrig wat CAPS-inhoud meebring." Volgens haar het beide die kursusgangers asook aanbieders positief op die kongres gereageer. "Op sigwaarde gee ek die kongres 10 uit 10. Alle aanduidings is dat dit in die toekoms net sal groei." Na terugvoering van onderwysers word die moontlikheid nou ondersoek om `n soortgelyke kongres vir Laerskoolonderwysers te reël.

Danie van Wyk, uitvoerende hoof van die SBA, Gordon April, burgemeester van Groter Oudtshoorn, Marise Oberholzer, kongres-koördineerder, dr. Dirk Brand, voorsitter van die SBA en Christo van der Rheede, uitvoerende hoof van die Afrikaanse Handelsinstituut, tydens verlede Donderdagaand se burgemeestersonthaal.
ARTIKEL EN FOTO: JACQUES SWART, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS