OUDTSHOORN NUUS - Die Weyers Memorial United Congregational Church (UCCSA) het die afgelope naweek sy 40ste bestaansjaar met feestelike verrigtinge, ’n motor- en vlottestoet, ’n suksesvolle basaar en ’n besondere jaarfeesdiens gevier.
Die vieringe het simbolies begin met ’n motor- en vlottestoet vanaf die plek waar die gemeente oorspronklik ontstaan het, die ou MOTH-saal in Voortrekkerweg, en is afgesluit met ’n feesdiens Sondag.
Saterdag se program het reeds vroeg met ’n bidsessie op die kerkterrein begin, waar gemeentelede saamgekom het om voorbidding vir die feesnaweek te doen. Daarna is gemeentelede vanaf Aurial Kollege, begelei deur die brigade-orkes van die Bridgton Congregational Church, in ’n optog na die kerkterrein.
By aankoms het die feesprediker, Nathalie Moos, die basaar amptelik geopen. Spesiale pryse is toegeken vir die bes versierde motor asook die aantreklikste stalletjie, wat tot die feestelike atmosfeer bygedra het.
Pearl Claassen, Brendeen Claassen en Daleen Carolus by die stoet se wenmotor. Foto: Garnett Wicomb
Sondag het Moos tydens haar boodskap die gemeente aangemoedig om nie op die foute en uitdagings van die verlede te fokus nie, maar eerder op die nuwe dinge wat God besig is om te doen.
Volgens haar het die jaarfees vanjaar ’n besondere betekenis gehad aangesien dit tydens Lydenstyd plaasvind, ’n tydperk wat gegrond is op drie pilare: gebed, vas en omgee vir ander.
Moos het verder daarop gewys dat die getal 40 ’n sterk Bybelse simboliek dra en dikwels met beproewing en voorbereiding verbind word. Sy het verwys na onder meer die Israeliete se 40 jaar in die woestyn, die 40 dae van reën tydens Noag se tyd, en Jesus se tyd van voorbereiding en bediening.
Die feesnaweek is bekroon deur ’n besonder suksesvolle basaar wat ’n totaal van R491 285,40 opgelewer het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’