OUDTSHOORN NUUS - Provinsiale verkeersbeamptes van Oudtshoorn het Woensdagoggend, 28 Januarie, in samewerking met die verkeers-beamptes van die Oudtshoorn-munisipaliteit 'n voertuigtoetsstasie in Adderleystraat bedryf waar voertuie vir padwaardigheid getoets is.
Volgens Paul Stassen, waarnemende verkeershoof van Oudtshoorn se provinsiale verkeersdepartement, vorm die inisiatief deel van 'n projek van die departement van mobiliteit om padveiligheid te verbeter.
'n Voertuigtoetsstasie (VTS) is 'n gespesialiseerde sentrum wat die pad-waardigheid van voertuie beoordeel. Hierdie eenhede voer noodsaaklike veiligheidsinspeksies uit, insluitend die toetsing van remme, vering, ligte en emissies, voordat wettige padwaardigheidsertifikate uitgereik word. VTS'e word volgens grade gekategoriseer om verskillende voertuigtipes te toets, van ligte tot swaarmotorvoertuie.
Stassen het verduidelik dat beamptes lukraak voertuie wat vermoedelik nie aan die vereistes voldoen nie, vir toetsing gekies het.
Paul Stassen, waarnemende verkeershoof van Oudtshoorn se provinsiale verkeersdepartement. Foto verskaf
"Indien 'n voertuig nie die toets slaag nie, word die voertuig opgeskort en die voertuiglisensie verwyder. 'n Stewige boete kan ook opgelê word. Die eienaar kry dan 14 dae om die voertuig te herstel en mag slegs met die voertuig na 'n herstelplek ry. Die voertuig mag vir geen ander doel gebruik word of passasiers vervoer nie," het hy gesê.
Sodra die voertuig herstel is, kan dit gratis by die munisipale toetsstasie vir herinspeksie aangebied word.
Volgens Stassen beoog die departement om hierdie projek meer gereeld aan te bied as deel van hul voortdurende pogings om padveiligheid te verseker.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’