OUDTSHOORN NUUS - 'n Kitsvloed wat Vrydag 27 Maart die buitewyke van Oudtshoorn getref het, het tot wydverspreide oorstromings en padsluitings gelei nadat tussen 30 mm en 80 mm reën op verskeie plekke gemeet is.
Die swaar neerslae het veroorsaak dat sowat 50 mense in Meiringspoort vasgekeer was. 'n Reddingshelikopter is ontplooi en die gestrande persone is veilig uit die gebied ontruim.
Meiringspoort is op 28 Maart weer vir verkeer oopgestel nadat watervlakke gedaal het en skoonmaakspanne rommel, modder en klippe van die pad verwyder het. Die Swartbergpas bly egter voorlopig gesluit.
Volgens Melt Botes, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur, dui voorlopige ondersoeke daarop dat die skade in Meiringspoort hoofsaaklik oppervlakkig was en nie struktureel van aard nie.
"Dit is goeie nuus vir die herstelproses, aangesien die werk waarskynlik tot skoonmaak- en oppervlakherstelwerk beperk sal wees," het hy gesê.
Hy het bygevoeg dat die bevindings voorlopig is en dat verdere tegniese inspeksies gedurende die week hervat sal word.
Die water het verlede week oor die pad in Meiringspoort gestroom na die kitsvloed. Foto: Rampbestuur
Met betrekking tot die Swartbergpas het Botes gesê dat die padoppervlak op verskeie plekke aansienlike skade opgedoen het, veral aan die Sentraal-Karoo-kant van die pas. Verdere assesserings sal bepaal hoe lank die pas gesluit moet bly.
Die departement het padgebruikers versoek om padsluitingsborde streng te respekteer.
"Dit was teleurstellend om video's op sosiale media te sien van motoriste wat padsluitings verontagsaam en die pas tog probeer oorsteek het. Dit is nie net gevaarlik nie, maar veroorsaak ook bykomende skade aan die infrastruktuur," het hy gesê.
Water binne Swartberg Country Manor na die kitsvloed. Foto: Riaan Fourie
Volgens Leoni Fourie, bestuurder van Swartberg Country Manor, asook inwoners van Matjiesrivier, is geen ernstige landbouskade tot dusver aangemeld nie.
"By Swartberg Country Manor was daar slegs oppervlakkige skade wat maklik herstel kon word. Ons is dankbaar vir die reën, aangesien dit broodnodig was en help om ondergrondse waterbronne aan te vul," het sy gesê.
Intussen het Oudtshoorn Courant verneem van twee plaaswerkers wat na bewering in die Grootkraal-omgewing deur weerlig getref en noodlottig beseer is terwyl hulle in die lande gewerk het. Teen saktyd kon die families van die oorledenes nog nie vir kommentaar bereik word nie.
Damvlak
Die Raubenheimerdam se vlak het gestyg van ongeveer 60% tot bo 66%. Volgens die Oudtshoorn-munisipaliteit het die reën ook 'n impak op die waterkwaliteit gehad. Die kleur en troebelheid van die water het toegeneem, wat die doeltreffendheid van die ontsmettingsproses tydelik verminder. As 'n voorsorgmaatreël word inwoners versoek om water eers te kook voordat dit gebruik word.
Die munisipaliteit beskik nie oor 'n volledige waterbehandelingsaanleg by die dam nie en water word tans slegs deur chlorering behandel, soos sedert 1972 die geval is.
Onlangse reënval het egter verhoogde troebelheid veroorsaak wat die doeltreffendheid van chlorering kan beïnvloed. Inwoners word aangeraai om drinkwater te kook voor gebruik.
Dyselsdorp en De Rust
Die munisipaliteit het aangedui dat Dysselsdorp se watervoorsiening onder druk is nadat boorgate gevandaliseer en kabels gesteel is. Nat toestande ná die reën bemoeilik ook toegang tot boorgate langs die rivier. Hoewel wateronttrekking binne aanbevole vlakke bly, is lewering en verbruik bykans gelyk, wat die stelsel kwesbaar laat. Streng vlak 6-waterbeperkings bly dus van krag.
In De Rust is die pyplyn in die Huisrivier oor die naweek tydelik herstel, maar dit bly kwesbaar. Beplanning vir 'n permanente oplossing en omgewingsgoedkeurings is aan die gang. Inwoners van De Rust en Blomnek kan intussen steeds watertekorte ervaar totdat 'n volhoubare oplossing gevind kan word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’