OUDTSHOORN NUUS - 'n Stormwind, wat met hael gepaard gegaan het, het Donderdagmiddag, 5 Februarie, groot skade op sommige plase by Zebra tussen Oudtshoorn en George en dele van die Langkloof aangerig.
Een van die slagoffers van die storm was die Klipdrift Crèche wat op dieselfde perseel as Klipdrift Primêr is. Volgens die hoof van die skool, Mareli Visser, is die skade aan die kleuterskooltjie se gebou so erg dat dit glad nie gebruik kan word nie. Die dak is heeltemal afgeruk en een muur het inmekaargeval.
"Alhoewel die skool en crèche op een perseel geleë is, is die crèche nie deel van die WKOD-skool nie en is hulle vir hul eie onkostes verantwoordelik." Sy sê daar is tans 10 kleuters in die kleuterskool wat tydelik in 'n klaskamer van die skool gehuisves word. "Die perseel behoort aan die kerk. Die departement van onderwys huur die skoolgebou, asook die administratiewe gedeelte by die kerk. Die crèche funksioneer heeltemal op sy eie en dien as voedingsbron vir die skool."
Volgens Visser het die storm Donderdag-middag losgebars nadat kinders en personeel reeds huis toe is, en het hulle die skade eers Vrydagoggend ontdek. Die koste om die dak, geute, bedrading en een muur van die kleuterskool te vervang is 'n onmoontlike taak. Die kleuterskool het reeds verlede jaar 'n terugslag beleef toe die weerlig 'n kragboks getref het en kragdrade vervang moes word. Die crèche word hoofsaaklik deur donasies gefinansier en enigiemand wat wil bydra kan Mareli kontak by 076 590 0181 of haar pa, Boeboe Visser, wat reeds met herstelwerk begin het, by 076 501 4403.
Die agterste muur van die crèche het tydens die storm omgeval. Foto verskaf
Angorabokke
Volgens Maretha van der Westhuysen, van die plaas Klipdrift, het die storm ook kwaai skade op die plaas aangerig en bykans 40 angorabokke is tydens die storm dood. Hulle het onder bome teen die hael geskuil toe die bome omgeruk is en op hulle geval het. "My seun, Pieter, boer op die familieplaas en volgens hom het die wind groot bome uitgeruk, dakke afgeruk en spilpunte omgeruk," het sy aan Oudtshoorn Courant gesê.
Sy sê 'n peperboom wat langs haar gastehuis op die plaas staan en waarskynlik ouer as 100 is, is deur die wind omgewaai. 'n Gedeelte van die dak van die historiese kerkgebou wat uit 1878 dateer en steeds gebruik word, is ook afgewaai.
Langkloof
In die Langkloof in die rigting van Noll was skade wat deur die wind en hael aangerig is duidelik te sien met groot bome wat ontwortel is, dakke van strukture wat afgeruk is en vrugte wat deur die hael afgeslaan is. Volgens 'n boer van die Noll-omgewing het vrugteboere reuseskade opgedoen met groot dele van hulle oes wat na die haelstorm op die grond gelê het. Sover vasgestel kon word, was daar nie beserings tydens die kort, maar kragtige storm nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’