OUDTSHOORN NUUS - Die algemene jaarvergadering van Oudtshoorn- en De Rust-toerisme is Donderdag 21 Augustus gehou waar lede, gassprekers en rolspelers in die plaaslike toerismebedryf saamgekom het om die afgelope jaar te evalueer en nuwe planne vir die toekoms te bespreek.
Tammy Moult, voorsitter van die vorige raad, het gesê dat vanjaar 'n besondere moeilike jaar was, aangesien hulle opnuut moes tender by die Oudtshoorn-munisipaliteit. Die kontrak is wel weer aan hulle toegeken en het hulle 'n driejaar-kontrak onderteken.
Sy het egter benadruk dat die bedryf steeds nie ten volle van die gevolge van Covid-19 herstel het nie.
"Hoewel dit beter gaan, is die getalle steeds laer as wat dit in 2019 was," het sy gesê. Volgens haar lê die fokus veral op bestemmingsbemarking.
"Ons gaan soveel meer regkry as ons saam ons streek kan bemark, in plaas daarvan dat elke produk op sy eie bemark word."
Huidige bemarkingsinisiatiewe sluit in deelname aan handels- en verbruikerskoue, advertensies in verskeie gedrukte media, radio-onderhoude, deurlopende gebruik van sosiale media, jaarlikse afslagpamflette, geborgde goedere en pryse tydens groot geleenthede, asook ruilooreenkomste vir advertensieruimte. Moult het verder genoem dat die Chinese toerismemark in die komende jare 'n belangrike fokusgebied gaan wees.
"Die ondersteuning van beide die openbare en privaat sektore, asook ons lede, word altyd opreg waardeer," het sy bygevoeg. "Hoe meer toerisme floreer, hoe meer floreer ons almal. Dit bly ons primêre doelwit."
Een van die gassprekers, Andrew Stroebel, burgemeester van die Tuinroete-distrikmunisipaliteit, het die gehoor toegespreek oor planne vir toerismeontwikkeling in die Tuinroete. Hy het aangekondig dat die uitbreiding van George-lughawe vanaf 2026 'n groot hupstoot vir die streek gaan beteken.
"Die nuwe lughawe gaan sowat twee miljoen mense kan akkommodeer en gaan ook 24/7 oop wees. Ons wil ook pendeldienste tussen dorpe tydens groot geleenthede soos die KKNK instel om die tekort aan verblyf te verlig."
Stroebel het verder gesê dat sy groot droom is om meer laaistasies vir elektriese voertuie op strategiese plekke in die Tuinroete te installeer.
Denver Johnson, toerismebeampte van die Tuinroete en Klein-Karoo, het sy insette gelewer oor die groeiende rol van nis-toerisme. Hy het spesifiek verwys na vaarttoerisme, filmtoerisme, spoortoerisme, gholf-, halaal-, juweel-, geleentheids-, landbou- en astrotoerisme as markte met groot potensiaal in die streek.
"Elke dorp in die Tuinroete het unieke potensiaal wat ons kan benut. Dit bied die geleentheid dat dorpe toeriste na mekaar kan aanstuur en só die hele streek bevoordeel," het Johnson gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’