OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn Courant wil graag die volgende regstelling plaas rakende die berig "Munisipaliteit wil 54 erwe verkoop" wat op bladsye 1 en 2 van die uitgawe van Donderdag 6 November verskyn het.
Die betrokke gedeeltes waarna verwys word is die volgende:
- Bladsy 1 - "… veral oor gerugte dat van hierdie erwe vir middel- en lae-inkomste-behuising bestem is."
- Bladsy 2 - "Tydens 'n opvolgvergadering op 1 Oktober het Jaco Eastes, namens die munisipaliteit, bevestig dat die parkies wat AfriForum onderhou, nie verkoop sal word nie. Hy het egter beklemtoon dat daar druk is om laekoste-behuising te skep, en dat parkies goedkoper is om te diens as nuwe grond op die buitewyke."
Gedeelte 1
Hoewel Oudtshoorn Courant op bladsy 2 wel berig het dat die burgemeester "beklemtoon dat die munisipaliteit nie self lae inkomste behuising gaan bou nie" moes die koerant dié standpunt duideliker aan die publiek voorgelê het.
Aldus die burgemeester was daar geen plan om lae inkomste behuising op die oop erwe of parkies wat vervreem gaan word te bou nie en is die gerugte van alle waarheid ontbloot.
Gedeelte 2
Dié gedeelte waarna verwys word is aangehaal na 'n gesprek met en na aanleiding van 'n verklaring van AfriForum. Aldus die burgemeester se kantoor is die aanhaling wat aan Eastes toegeskryf is nie korrek weergegee nie en ontken Eastes dat hy hierdie uitlating gemaak het.
Outshoorn Courant vra om verskoning vir enige misverstand wat hierdie beriggewing kon veroorsaak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’