PRINS ALBERT NUUS - Die Prins Albert-leesfees is een van die eerste leesfeeste wat in die land aangebied is en is sedert 2012 steeds 'n gewilde trekpleister vir boekliefhebbers.
Die komitee van vrywilligers wat jaarliks die fees reël, het Vrydag 10 Oktober bymekaargekom om te herkou aan die 2025-fees wat van 29 tot 31 Augustus plaasgevind het. Terugvoer oor die fees was uiters positief ten opsigte van bywoning, kaartjieverkope, verskeidenheid en aanbiedinge.
Vanjaar was die tweede jaar dat die leesfees in die pragtige Art Deco-gebou van The Showroom aangebied is. Die gebou behoort aan PACT (Prince Albert Community Trust) wat dit gebruik om jong mense in die teater- en vermaaklikheidsbedryf op te lei. 'n Toevoeging tot PACT se bydrae was vanjaar ook ONS-restaurant oorkant The Showroom waar besoekers en skrywers ligte etes kon geniet.
Thana de Clerck, wat deel is van die toegewyde span van Slimlappies wat voorskoolse ontwikkelingsprogramme in die gemeenskap aanbied en ook jaarliks deel is van die leesfees se program, het gesê die ondersteuning van Prins Albert se mense en hulle deelname aan die leesfees is besonders.
'n Groot deel van skrywersakkommodasie word jaarliks deur gastehuise in die dorp geborg en 'n groot deel van kaartjieverkope gaan ook aan inwoners. Dat die fees ook buite die omgewing gewild is word bevestig deur gereelde besoekers wat van so ver as Welkom, Kaapstad, Kaap St. Francis en Kimberley kom.
Die koste om skrywers vanoor die land heen by die fees te kry is elke jaar die grootste uitgawe. Daar is besluit om die Prins Albert-leesfees as vrywillige organisasie te registreer om sodoende in staat te wees om aansoek om befondsing te kan doen.
Die 2026-Prins Albert-leesfees word voorlopig beplan vir 4 tot 6 September 2026 en sal bevestig word na die volgende komitee-vergadering wat op 18 November plaasvind. Na afloop van die vergadering sal uitgewers genooi word om skrywers en boeke vir die fees voor te lê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’