OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn rou oor die afsterwe van die geliefde roosterkoek-tannie, Elsie van Beulen (66), wat Saterdagoggend ná ’n kort siekbed oorlede is.
Elsie het sedert 2005 bekendheid verwerf vir haar heerlike roosterkoeke en was vir jare ’n bekende gesig in die dorp. Haar besigheid, Elsie Kleinbegin, het aanvanklik voor die gebou waar Absa tans is, ontstaan.
Ongeveer tien jaar gelede moes sy verskuif toe aanbouings begin is, waarna sy haar stalletjie op die hoek van Voortrekkerweg en Hoogstraat bedryf het.
Volgens haar skoondogter, Mary Ann Scholtz, laat Elsie ’n groot leemte en het die familie “’n stukkie goud verloor”.
“My skoonma het haar besigheid Elsie Kleinbegin genoem omdat dit werklik vir haar ’n klein begin was. Deur harde werk en deursettingsvermoë het sy dit in ’n suksesvolle onderneming omskep. Alles wat sy aangepak het, het sy met toewyding gedoen,” het sy gesê.
Scholtz beskryf haar as ’n baie spesiale vrou met ’n groot hart wat haar medemens eerste gestel het.
“Sy het soveel liefde vir mense gehad en sou haar laaste vir iemand anders gee. Sy het nie net haar eie twee seuns grootgemaak nie, maar ook baie ander kinders. Sy was ’n goeie ma en ’n fantastiese ouma.”
Een van die belangrikste lewenslesse wat sy by haar skoonma geleer het, was om nooit op te gee nie. “Sy het elke uitdaging as ’n nuwe begin gesien. Sy was vir my ’n ware inspirasie. Al was sy nie geletterd nie, het sy later in haar lewe haar ABET voltooi en op 50-jarige ouderdom haar rybewys gekry.”
Elsie se klante het vir haar baie beteken, en sy het altyd daarna gestreef om die mense rondom haar gelukkig te maak.
Sy was 40 jaar lank met haar man, Gert, getroud, met wie sy ’n pad van liefde en deernis gestap het.
Sy word oorleef deur haar twee seuns, twee skoondogters, vyf kleinkinders en een agterkleinkind.
Daar word vanaand, 18 Maart, om 19:00 ’n troosdiens by hul huis gehou op Karoo Valley Farms en môreaand om 19:00 by die PPK-kerksaal in Askamp.
Haar begrafnis vind Sondag plaas en begin met ’n diens om 09:00 by haar woning op Karoo Valley Farms.
Die stalletjie sal gesluit wees tot volgende week.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’