OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn Courant het vanoggend, 17 Augustus, die toneel tussen Oudtshoorn en Dysselsdorp besoek waar drie vyfpaalstrukture wat die Eskom 132 kV-lyne dra, omgeval en gebreek het.
Die kragtoevoer na Oudtshoorn is tussen Vrydagnag en Saterdagoggend onderbreek nadat die drie strukture omgeval het. Oudtshoorn is tans meer as 60 uur sonder krag.
Die span was druk besig om elektrisiteit na die dorp te herstel. Die herstelspan het egter verskeie tegniese uitdagings ondervind, onder meer die beskikbaarheid van toerusting wat uit die Kaap moes kom, asook die uiters harde grond waarin die nuwe pale gesink moes word.
“Die sink van die gate het die langste geneem omdat die grond kliphard is en ons klipbanke geslaan het. Dan moet ons ook die veiligheid van ons personeel in ag neem. Hoewel daar wel ligte op die perseel beskikbaar is, is die afstande tussen die pale wat gemonitor moet word ver en kan ons nie mekaar sien en voldoende kommunikeer nie. Dit bly dus ’n geweldige risiko om in die nag te werk,” het die terrein-toesighouer gesê.
Volgens hom het die hoek-vyfpaalstruktuur eerste gebreek, wat daartoe gelei het dat die twee aangrensende strukture ook omgeval het.
Een van die vyfpaalstrukture wat skeefgetrek het. Foto’s: Liezl van Niekerk
“Dit sou heeltemal te lank neem om weer sulke strukture te bou en ons het dus besluit om drie 18-meterpale te sink.”
Teen Maandagoggend, kort voor 12:00, was al drie die nuwe pale reeds gesink en was die span besig om die hoekpaal te anker.
Die volgende groot uitdaging is om die kragdrade terug op die nuwe strukture te plaas en te span. Die drade, wat tans op die grond lê, moet versigtig op die drie nuwe pale geplaas word voordat dit gespan kan word.
“Daar is ’n kans dat die vyfpaalstrukture moontlik kan breek wanneer die drade styf gespan word, maar ons is hoopvol dat dit nie sal gebeur nie.”
Een van die nuwe 18 meter pale wat geplant is.
Nadat die drade gespan is, moet die brekers aan die Oudtshoorn-kant sowel as die een aan die Dysselsdorp-kant weer aangeskakel word. Die kragtoevoer sal daarna stelselmatig herstel word om te voorkom dat die netwerk oorlaai word.
Volgens Eskom behoort teen krag teen vanmiddag 17:00 herstel te wees.
“Dit is steeds slegs ’n skatting en sal afhang van hoe die herstelwerk vorder. Eskom sal inwoners steeds ophoogte hou soos die herstelproses vorder.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’