TUINROETE | KAROO NUUS - Die Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, Tertius Simmers, het vanmiddag 28 Maart bevestig dat Meiringspoort, die roete tussen Beaufort-Wes en Oudtshoorn, weer vir verkeer oopgestel is nadat dit vroeër weens swak weerstoestande gesluit was.
Volgens die departement duur opruimings- en herstelwerk steeds voort, en motoriste word versoek om versigtig deur die poort te ry en alle padtekens en instruksies van amptenare te gehoorsaam.
Die Swartbergpas, die roete tussen Prins Albert en Oudtshoorn, bly egter gesluit weens groot rotse wat op die pad beland het, asook gevaarlike, gladde rytoestande.
Die pas sal tot verdere kennisgewing gesluit bly.
Padgebruikers word versoek om padsluitings streng na te kom en veiligheid eerste te stel wanneer hulle in die betrokke gebiede reis.


‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’