OUDTSHOORN NUUS - Terwyl ontruimings op verskeie plekke in die Groter Oudtshoorn-distrik plaasgevind het en talle inwoners tydelik ontwortel is, het gemeenskapsorganisasies en vrywilligers vinnig gemobiliseer om noodleniging te verskaf.
Volgens Leoni Fourie van die Oudtshoorn Gemeenskapspolisiërings-forum (GPF) het Henrico Kumutu, die nuwe GPF-voorsitter, saam met sy span van Eden Meals on Wheels onverpoos gewerk om kos aan mense in nood te voorsien.
“Hulle het aanvanklik gehelp om kos vir inwoners in die Toekomsrus-omgewing voor te berei. Toe ek vra of hulle moontlik ook die ontruimde inwoners van De Rust met kos kan help, het hulle eenvoudig aangehou kook,” het Fourie gesê.
Die Oudtshoorn Gemeenskapspolisiëringsforum het verder, in samewerking met die Oudtshoorn Toerismeburo, De Rust Toerismeburo en verskeie gemeenskapslede, vinnig opgetree nadat ’n dringende behoefte aan komberse geïdentifiseer is.
Volgens Fourie kon die rampbestuurspan uiteindelik altesaam 47 komberse aan behoeftige inwoners aflewer.
Henrico Kumutu van Eden Meals on Wheels en nuwe voorsitter van die GPF. Foto verskafDrinkwater dringend benodig
Die vloede in die Volmoed-omgewing het ook ’n groot impak op plaaslike inwoners. Meer as 700 gesinne in die area is tans afgesny en verkeer in dringende nood vir skoon drinkwater.
“Gister het ons ’n beroep op ons gemeenskap gedoen vir komberse, en ons wil ons opregte dank uitspreek vir die uitstekende samewerking en ondersteuning wat ontvang is. Die gemeenskap se bereidwilligheid om te help word opreg waardeer,” het Fourie gesê.
’n Dringende beroep word daarom op individue, besighede en organisasies gedoen om waterdonasies te maak om geaffekteerde families by te staan.
Enige iemand wat skenkings wil maak, kan dit by die munisipale depot in Rolinckstraat afgee, naby Wessels en Kie Grafsteenwerke.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’