OUDTSHOORN NUUS - Johanna Goosen, ’n inwoner van die Oudtshoorn-aftreeoord in Kerkstraat, het Sondag 22 Februarie haar 99ste verjaarsdag gevier, ’n besondere mylpaal wat min mense beskore is.
Volgens haar seun, Deon Goosen, geniet sy steeds besonder goeie gesondheid, hoewel haar geheue haar soms in die steek laat.
“Vir 99 gaan dit nog baie goed,” sê hy met trots.
Johanna is die ma van vier kinders, drie seuns en ’n dogter. Haar oudste seun, Pieter, is reeds oorlede. Betsie woon saam met haar man, Anton Roetz, op Shadowlands in Oudtshoorn. Deon woon in Nylstroom (Modimolle) in Limpopo, terwyl die jongste seun, André, in Duitsland bly. Sy is ook die trotse ouma van 12 kleinkinders en 12 agterkleinkinders.
Johanna is in die suide van Namibië naby Ariamsvlei gebore. Sy is een van 16 kinders, 12 seuns en vier dogters. Vandag lewe net sy en een suster nog. Sy het later na Windhoek verhuis waar sy haar man, Pieter Goosen, ontmoet het. Hulle is op 27-jarige ouderdom getroud, en hul drie oudste kinders is daar gebore.
Deon Goosen saam met sy ma, Johanna. Foto verskaf
Die gesin het later na Pretoria verhuis, waar hul jongste seun, André, gebore is. Hulle het daar gewoon tot haar man se dood in 2004.
Daarna het Johanna by haar dogter Betsie en skoonseun Anton in Oudtshoorn gaan woon.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’