OUDTSHOORN NUUS - Gesondheidspanne in die Oudtshoorn-subdistrikte werk tans intensief in gemeenskappe om ouers en versorgers te ondersteun om te verseker dat kinders ten volle ingeënt is.
Dit maak deel uit van die Nasionale Immunisering-inhaalveldtog, wat gedurende November in die Wes-Kaap aan die gang is.
Volgens Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement het die veldtog ten doel om die sogenaamde “nul-dosis-gaping” te sluit, met ander woorde kinders wat moontlik gemiste inentings het. Hierdie gaping het in die provinsie ’n kommerwekkende afname in baba-inentings tot gevolg gehad, wat kinders kwesbaar laat vir siektes soos masels, polio, tuberkulose, difterie, kinkhoes en tetanus.
Wat ouers kan verwag
Van 1 tot 30 November bied alle openbare gesondheidsfasiliteite regoor die Wes-Kaap gratis inhaal-inentingsdienste aan. Ouers hoef nie afsprake te maak nie. Plaaslike uitreike word ook in gemeenskappe beplan. Jou naaste plaaslike kliniek kan vir die skedule gekontak word. Immunisasies is ook teen ’n koste by privaat verskaffers beskikbaar.
Dienste wat tydens die inhaalveldtog aangebied word, sluit in:
- Kontrole van die kind se Pad-na-Gesondheid-boekie (geen boekie? Hulle help steeds.)
- Roetine- en inhaal-inentings
- Voedingstoetse
- Gesondheidsondersoeke en opvoeding
Gesondheidsorgspanne sal ook skole en voorskole besoek vir inentings en gesondheidstoetse. Ouer- of versorgertoestemming is nodig, dus word ouers aangemoedig om die toestemmingsvorms wat deur die skole verskaf word, te teken en terug te stuur.
Oudtshoorn-subdistrik: gemeenskapsuitreikdatums
- 4 - 10 November: Bridgton en Bongolethu
- 11 - 14 November: Dysselsdorp en De Rust
- 17 - 21 November: Toekomsrus
- 24 – 25 November: Oudtshoorn-kliniek
Mobiele klinieke sal ook gedurende die maand die landelike gebiede dek.
Beskerming van kinders deur die Uitgebreide Immuniserings-program (UPI)
Die Uitgebreide Immuniseringsprogram (UPI) verseker dat kinders lewensreddende entstowwe op sleutelstadiums van hul vroeë ontwikkeling ontvang. Vanaf geboorte tot adolessensie beskerm dit kinders teen tuberkulose, polio, difterie, tetanus, kinkhoes, hepatitis B, Hib (wat meningitis en longontsteking veroorsaak), rotavirus-diarree, longontsteking en masels.
Soos kinders ouer word, ontvang hulle versterkingsinspuitings om die beskerming te handhaaf. Meisies van nege jaar en ouer ontvang die HPV-entstof met ouerlike toestemming om servikale kanker in die latere lewe te voorkom.
Deur seker te maak elke kind volg die volledige UPI-skedule, beskerm ouers nie net hul eie kinders nie, maar ook die gemeenskap teen voorkombare siektes.
Kundige insig
“Die Wêreldgesondheidsorganisasie se Uitgebreide Program oor Immunisering (EPI) het in 2024 50 jaar gevier. Wêreldwyd voorkom inenting 4 miljoen sterftes per jaar,” sê dr. Heather Finlayson, senior spesialis in infeksiesiektes by Tygerberg-hospitaal.
“Die Suid-Afrikaanse EPI beskerm kinders teen siektes wat skoolafwesigheid, hospitalisasie of selfs dood kan veroorsaak. Entstowwe is veilig, goed bestudeer en noodsaaklik vir die bou van gesonde kinders en gemeenskappe. Selfs ’n klein daling in inentings kan jare se vooruitgang ongedaan maak. Ons doen ’n beroep op alle ouers en versorgers om seker te maak dat hul kinders volledig ingeënt is.”
Nadine Jackson, moeder van drie en gesondheidswerker van Oudtshoorn sê: “As gesondheidswerker en moeder het ek eerstehands gesien hoe belangrik inentings is. My kinders is ten volle ingeënt en dus beskerm.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’