TUINROETE | KAROO NUUS - Hierdie reeks artikels saamgestel deur Kobus Heyns* verduidelik presies hoe plaaslike regering behoort te funksioneer.
Met die oog op die verkiesing op 1 November, word dit as 'n diens aan ons lesers in drie dele in die koerant gepubliseer. Knip dit uit en bêre dit veilig. Die volgende twee artikels verskyn onderskeidelik op 21 en 28 Oktober.
DEEL 1:
Plaaslike regeringsake fokus op die plaaslike regeringsvlak - daardie vlak van regering wat naaste aan die mense gesetel is en ongeveer 278 munisipaliteite in die land behels.
Die land is in nege provinsies verdeel en hierdie provinsies is op hul beurt in metro's, plaaslike en distriksmunisipaliteite verdeel.
Hierdie 278 munisipaliteite word dus onder die sambreel van plaaslike regering vervat.
Die uitvoerende en wetgewende gesag van 'n munisipaliteit berus by sy munisipale raad.
'n Munisipale raad bestaan uit:
- 'n Burgemeester wat aan hoof van die raad staan;
- 'n Uitvoerende of burgemeesterskomitee wat gereeld vergader om die werk van die raad te koördineer en aanbevelings aan die raad te maak;
- 'n Speaker wat as voorsitter by raadsvergaderings optree;
- Raadslede moet raadsvergaderings voorberei en bywoon; en
- Komitees, waar 'n paar raadslede vergader om spesifieke kwessies te bespreek.
Raadslede neem besluite namens die munisipaliteit en hou toesig oor die administrasie van die munisipaliteit.
'n Munisipaliteit het die reg om op eie inisiatief die plaaslike regeringsaangeleenthede van sy gemeenskap te bestuur, behoudens nasionale en provinsiale wetgewing, soos in die grondwet bepaal.
Die oogmerke van plaaslike regering is:
- om demokratiese en verantwoordingspligtige regering vir plaaslike gemeenskappe te voorsien;
- om te verseker dat dienste op volhoubare wyse aan gemeenskappe verskaf word;
- om maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling te bevorder;
- om 'n veilige en gesonde omgewing te bevorder; en
- om die betrokkenheid van gemeenskappe en gemeenskapsorganisasies in plaaslike regeringsaangeleenthede aan te moedig.
'n Munisipaliteit moet daarna streef om binne sy finansiële en administratiewe vermoë die oogmerke te verwesenlik.
Jou plaaslike regering is vir die volgende dienste verantwoordelik:
- Lewering van elektrisiteit;
- Water vir huishoudelike gebruik;
- Riolering en sanitasie;
- Stormwaterstelsel;
- Vullisverwydering;
- Brandbestryding;
- Munisipale gesondheidsdienste;
- Besluite rondom grondgebruik;
- Munisipale paaie;
- Munisipale openbare vervoer;
- Straathandel;
- Slagpale en varsvoedselmarkte;
- Parke en ontspanningsareas;
- Biblioteke en ander geriewe; en
- Plaaslike toerisme.
Dit is belangrik om te weet dat die verskaffing van laekoste-behuising nie 'n munisipale funksie is nie. Die departement van menslike nedersettings van die nasionale regering is verantwoordelik vir behuising en stedelike ontwikkeling.
Die hoofdoel daarvan is die implementering van die grondwetlike mandaat dat "almal die reg het om toegang te hê tot voldoende behuising". Die departement verskaf tans beperkte fondse aan munisipaliteite om huise te bou.
Munisipale rade het die mag om:
- munisipale regulasies goed te keur;
- begrotings en ontwikkelingsplanne goed te keur;
- die oplê van erf- en ander vorms van belastings;
- die hef van diensgeld vir munisipale dienste insluitend water, elektrisiteit en biblioteke;
- die oplegging van boetes op enige iemand wat munisipale wette of regulasies oortree, insluitend verkeersboetes, rommelstrooiing; die verkryging van lenings vir ontwikkelingsprojekte.
'n Munisipaliteit moet sy administrasie, begrotings en beplanningsprosesse so struktureer en bestuur dat voorrang verleen word aan die basiese behoeftes van die gemeenskap. Maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling van die gemeenskap moet bevorder word en die munisipaliteit moet aan nasionale en provinsiale ontwikkelingsprogramme deelneem.
- Munisipaliteit het uitvoerende gesag ten opsigte van die administrasie van plaaslike regeringsaangeleenthede en enige ander aangeleentheid wat deur nasionale of provinsiale wetgewing aan hom opgedra word.
- Munisipaliteit kan verordeninge uitvaardig en administreer vir die doeltreffende administrasie van die aangeleenthede wat hy die reg het om te administreer.
Die nasionale regering en provinsiale regerings moet deur wetgewende en ander maatreëls munisipaliteite se vermoë om hul eie sake te bestuur, hul bevoegdhede uit te oefen en hul funksies te verrig, steun en versterk.
Bronne: Dr. Harlan Cloete, buitengewone lektor by die Skool vir Publieke Leierskap aan die Universiteit Stellenbosch se navorsing oor munisipale bestuur.
Hoofstuk 7: Plaaslike Regering (artikels 151-164) wetgewing.
* Saamgestel deur Kobus Heyns - in sy eie woorde - 'n besorgde Suid-Afrikaner.
"Ek is nie verbonde aan enige politieke organisasie of beweging nie. Ek is 'n voormalige Namibiër en Suid-Afrikaanse inligtingsbeampte met eerstehandse ervaring en kennis van politieke en sosio-ekonomiese transformasiepro-sesse op grondvlak. 'n Besorgde burger wat elke dag poog om 'n positiewe verskil in gemeenskappe te maak."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'