OUDTSHOORN NUUS - ’n Vrou van De Rust, wat haar saamleefmaat van elf jaar doodgesteek het, is in die Oudtshoorn-streekhof gevangenisstraf van tien jaar opgelê.
“Vroue moenie verwag dat hulle in die hof anders as mans behandel moet word nie,” het streeklanddros Ntsoki Moni, in die vonnisoplegging van die 46-jarige Audrey Matroos gesê.
Matroos het op 19 November 2023 die 47-jarige Kerneels Martinus, met ’n broodmes in sy bors gesteek toe sy glo na ’n waterhouer gesteek en hom, volgens haar, per ongeluk raakgesteek het.
Volgens die landdros kan vroue nie in die hof kom sê: “Ek is ’n ma en het ’n vaste werk nie.”
’n Maatskaplike werker het aanbeveel dat Matroos ’n vonnis opgelê moet word waarvan sy ten minste ’n sesde agter tralies moet deurbring. Die landdros het gesê dat sy nie haar oë sal toemaak vir vroue wat verkeerd optree nie.
Volgens haar is sy verstom oor die getal vroue in die hof se bedieningsgebied, wat hul mans doodgemaak het, sedert sy in 2019 in Oudtshoorn begin werk het.
Sy het Matroos na die vonnis meegedeel dat sy binne veertien dae ’n aansoek kan bring om daarteen te appelleer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’