OUDTSHOORN NUUS - 'n Vrou van Blomnek, De Rust, wat haar saamleefmaat van elf jaar doodgesteek het, is in die Oudtshoorn-streekhof aan strafbare manslag skuldig bevind en sal op 20 Maart gevonnis word.
Audrey Matroos (46) het tereggestaan op 'n aanklag van moord, maar onskuldig gepleit.
"Dit was nie op hom gemik nie," het sy huilend aan die landdros gesê.
Volgens haar het sy op 19 November 2023 saam met die oorledene, Kerneels Martinus (47), en haar neef 'n tuisgemaakte bierbrousel gedrink.
Martinus het blykbaar nie van haar neef gehou nie en later kwaad geword. Hy toe skielik die water, wat in 'n waterhouer was, uitgegooi.
Sy het 'n lang broodmes gaan haal en die houer begin stukkend steek.
Volgens haar het sy toe glo vir Martinus per ongeluk in die bors gesteek en hy is op die toneel dood. Sy het na die bure gehardloop vir hulp, maar dit was te laat.
Streeklanddros Ntsoki Moni het die saak op versoek van Matroos se regshulp-prokureur, Margareta Aucamp, vir 'n proefbeampteverslag en vonnisverrigtinge tot 20 Maart uitgestel nadat die hof haar borgtog van R500 tot R1 000 verhoog het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’