OUDTSHOORN NUUS - Daar is tans heelwat vrae in Williamstraat, Bridgton nadat die liggaam van 'n onbekende man Donderdagaand, 9 Oktober ongeveer 23:40 op 'n straathoek gevind is.
Oudtshoorn-polisie het 'n moord-dossier geopen vir ondersoek.
Volgens lt.kol. Malcolm Pojie, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, is die omstandighede rondom die man se dood tans onseker, maar het daar bloed by sy neus en ore uitgeloop en was sy kop geswel. "Die man is na die naaste hospitaal geneem, maar is deur 'n doktor op diens dood verklaar."
Met besoek aan Williamstraat was meeste van die inwoners onbewus van die voorval, terwyl ander vrae het oor wat gebeur het en wie die man is. In gesprek met Joseph van Rooyen, huiseienaar wat die naaste aan die hoek woon waar die man gevind is noem hy dat niemand werklik weet wie die man was of wat gebeur het nie. "Ek het toe hy gevind is reeds geslaap, maar my broers het wel die polisie gehoor, maar nie uitgegaan nie." Volgens van Rooyen is hulle erg geskok oor die voorval byna reg voor hul deur.
Enige persoon met inligting rakende die insident word gevra om Crime Stop op 08600 10111 te kontak, of gebruik te maak van die MySAPS-toepassing om inligting anoniem deur te gee.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’