OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen 'n pa van drie kinders wat van verkragting van 'n 15-jarige meisie aangekla word, is verlede Vrydag in die Oudtshoorn-landdroshof tot 15 Mei uitgestel.
Die 46-jarige beskuldigde sou Vrydag vir 'n tweede keer om borgtog aansoek doen, maar sy regsverteenoordiger, Lourens Swanepoel, het hom aan die saak onttrek. Die beskuldigde het die hof daarna meegedeel dat hy om regshulp aansoek wil doen.
Swanepoel het vroeër die maand die hof versoek om die borgtogaansoek te heropen omdat die beskuldigde glo nuwe feite aan die hof wou voorlê. Swanepoel het toe aan die hof gesê dat die staat nie 'n sterk saak teen die beskuldigde het nie, en op 'n enkelgetuie staatmaak.
Volgens die ondersoekbeampte, ao. Michael Kock, het die beskuldigde die klaer die aand van 18 Januarie vanjaar in sy motor gelaai en gesê dat hy oor 'n video van haar en haar kêrel beskik. Hy het gedreig dat hy dit aan haar pa sou wys, maar sou uitwis indien sy met hom seks sou hê.
Landdros Stephanie Strydom het die saak vir 'n streekhofbeslissing en aansoek om regshulp tot 15 Mei uitgestel. Die beskuldigde se naam mag volgens wet nie gepubliseer word voor hy nie gepleit het nie. Hy bly in aanhouding.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’