OUDTSHOORN NUUS - Borgtog van R1 000 is in die Kaapse hooggeregshof toegestaan aan 'n 46-jarige man van Oudtshoorn, 'n pa van drie kinders, wat van verkragting van 'n 15-jarige meisie aangekla word.
Die beskuldigde het hom tot die hooggeregshof gewend nadat borgtog verlede jaar in die Oudtshoorn-landdroshof aan hom geweier is.
Die saak is vir verhoor in die streekhof tot 25 Augustus uitgestel.
Ao. Michael Kock, die ondersoekbeampte, het vroeër vanjaar getuig dat die beskuldigde die 15-jarige meisie die aand van 18 Januarie 2024 in sy motor gelaai en gesê het dat hy oor 'n video van haar en haar kêrel beskik.
Hy het glo gedreig dat hy dit aan haar pa sou wys, maar sal uitwis indien sy met hom geslagsgemeenskap sou hê.
Die beskuldigde het nog nie gepleit nie en volgens wetgewing mag sy naam nie gepubliseer word nie.
Waarnemende regter SC O' Brien het op 17 Junie sy aansoek toegestaan op voorwaarde dat hy nie met die staatsgetuies en spesifiek nie die klaer, kontak maak nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’