OUDTSHOORN NUUS - Die borgtogaansoek van twee mans van Oudtshoorn, wat van huisbraak en diefstal van meer as R2 miljoen se volstruisvere aangekla word, om hul voertuie waarop die polisie beslag gelê het terug te kry, is Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof van die hand gewys.
Henale Thabang Mpofu (41) en Filadrek Tebogo MPofu (33) het glo op 25 Julie 2024 by 'n stoor op die plaas Mayfair in die Oudtshoorn-distrik ingebreek en volstruisvere en volstruisprodukte ter waarde van ongeveer R2,1 miljoen gesteel.
Hulle het deur middel van hul regs-verteenwoordiger, Lourens Swanepoel, 'n aansoek gebring om die hof te versoek om hul voertuie terug te gee omdat hulle dit nodig het om 'n inkomste vir hul families te verdien.
Volgens Swanepoel is geen bewyse voor die hof gebring dat die voertuie verkoop sal word nie, en dit in belang van geregtigheid is dat hulle dit terugkry.
Streeklanddros NMtsoki Moni het die hand gewys en gesê dat die polisie korrek opgetree het omdat die voertuie gebruik is om 'n misdaad te pleeg. Sy het die saak vir verdere verhoor tot 10 Februarie uitgestel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’