OUDTSHOORN NUUS - 'n 59-jarige man van Dysselsdorp, wat sy swaer doodgesteek het, is in die Oudtshoorn-streekhof aan strafbare manslag skuldig bevind en tronkstraf van vyf jaar opgelê.
Ernest Maxim het onskuldig gepleit op aanklag van moord omdat hy nie bedoel het om Damon Marnewick (64) dood te maak nie. Volgens hom was hulle albei sterk onder die invloed van drank.
Sy suster, Margaret Marnewick, het getuig dat haar broer en haar man baie goed klaargekom het, maar mekaar nie verstaan wanneer hulle gedrink het nie.
Hulle het die betrokke dag weer saam gekuier en die beskuldigde het kwaad geword toe haar man hom uitgeskel het.
Volgens haar is haar broer 'n baie stil en behulpsame persoon en nie iemand wat sommer 'n ander sal seermaak nie. Sy en haar man was vir 25 jaar getroud.
Haar broer het haar om verskoning gevra en sy het hom vergewe.
Maxim se regshulpprokureur, Eugene Roos, het die hof vir 'n opgeskorte vonnis gevra omdat hy nie iemand is wat uit die gemeenskap geneem moet word nie.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het 'n vonnis versoek waarvan die beskuldigde 'n gedeelte agter tralies sal moet uitdien.
Streeklanddros, Nsoki Moni het Maxim ingevolge Artikel 276 (1) (i) gevonnis wat beteken dat hy na die uitdiening van 'n sesde van die vonnis (tien maande) om parool aansoek kan doen. Hy is 'n eerste oortreder.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’