DE RUST NUUS - ‘n 26-jarige man van De Rust, wat ‘n 15-jarige seun met ‘n mes gedreig en van sy selfoon beroof het, is verlede Dinsdag in die Oudtshoorn-streekhof tronkstraf van tien jaar opgelê.
Beayolan Sauls het onskuldig gepleit en aangevoer dat hy die betrokke dag nooit van die huis af weg was nie, maar sy weergawe is deur die hof verwerp.
Streeklanddros Daniel Boks het bevind dat daar nie fout begaan is met Sauls se identifikasie nie omdat hy aan die klaer sowel as die ander staatsgetuies bekend is.
Sauls het die klaer in ‘n gangetjie van agter genader en ook sy vriend wat hom wou help in sy hand gesteek.
Hy toon nie enige berou nie en die moontlikheid is sterk dat hy weer dieselfde misdaad sal pleeg. Hy is nie ‘n eerste oortreder nie en vorige vonnisse het hom nie afgeskrik nie.
Volgens die landdros dui Sauls se optrede op algehele wetteloos- en barbaarsheid en daarom is direkte gevangenisstraf die enigste gepaste vonnis.
Die seun sê ook in ‘n impakverslag dat hy in vrees lewe en dat die beskuldigde ‘n gevaar vir die gemeenskap is.
Nadia Arnolds het vir die staat verskyn en Brian Carelse in opdrag van die Regshulpraad, vir Sauls.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’