OUDTSHOORN NUUS - ’n 27-jarige man van Volmoed, wat by die huis van ‘n bejaarde vrou ingebreek, haar aangerand, en van kontant en kruideniersware beroof het, is verlede Donderdag in die Oudtshoorn-streekhof tien jaar tronkstraf opgelê.
Benjamin Witbooi is skuldig bevind aan huisbraak met die opset om te roof en roof met verswarende omstandighede nadat hy uiteindelik skuldig gepleit het.
Hy het erken dat hy die aand van 3 September 2022 by die huis van die 70-jarige Griet Jullies ingebreek en haar met ‘n klip teen haar voorkop gegooi het. Sy het daarin geslaag om bloeiend in die donker na haar kinders op ’n naburige plaas te hardloop.
Witbooi het Jullies se laaste R70 en kruideniersware ter waarde van R730 vir homself geneem.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof vir ‘n vonnis van ten minste sestien jaar tronkstraf gevra vanweë die erns van die misdaad en dat Witbooi geen berou toon nie. Hy het ook ‘n ellelange lys van vorige veroordelings.
Volgens Goulding was dit nie nodig vir die beskuldigde om te doen wat hy gedoen het nie. Hy het ‘n goeie werk gehad en het R1 500 per week verdien.
“Die beskuldigde kon die klaer se dood veroorsaak het. As jy nie in jou eie huis veilig is nie waar moet jy veilig wees?” het Goulding gesê.
Streeklanddros Ntsoki Moni het vir vonnis in ag geneem dat Witbooi vir langer as twee jaar verhoorafwagtend was, en skuldig gepleit het.
Hy is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’