Update
OUDTSHOORN NUUS - Geen haan het nog gekraai oor wat presies aanleiding gegee het tot die gewelddadige voorval by Oudtshoorn-gevangenis verlede Donderdag, 7 Augustus, waartydens vier bewaarders met skerp voorwerpe gesteek, en 'n gevangene dood is nie.
Dit volg na 'n deursoekingsoperasie die vorige aand, 6 Augustus, waartydens onwettige items soos selfone en dwelms gekonfiskeer is. Die betrokke afdeling is tans onder streng sekuriteit en besoekers word nie toegelaat nie.
Die vier bewaarders het steekwonde aan die gesig, kop en rug opgedoen. Hulle het mediese behandeling by die hospitaal ontvang, en die Werknemershulpprogram (Employee Assistance Programme - EAP) is geaktiveer om ondersteuning te bied. Volgens inligting is die bewaarders ontslaan en sterk hulle by die huis aan.
Sersant Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het bevestig dat die Oudtshoorn-polisie 'n geregtelike doodsondersoek, asook sake van poging tot moord en ernstige aanranding ondersoek.
"Hierdie ondersoeke hou verband met die dood van 'n 38-jarige man en die aanranding van amptenare," het hy gesê. Die identiteit van die oorledene is nog nie bekendgemaak nie.
Dit is onduidelik of 'n nadoodse ondersoek reeds gedoen is om die oorsaak van die 38-jarige gevangene se dood te bepaal.
Aanvanklik is vermoed dat die voorval moontlik bendeverwant was, maar volgens betroubare bronne het gevangenes glo opstandig geraak oor hardhandige optrede deur die bewaarders tydens die deursoekingsoperasie.
Ander bronne beweer egter dat die gevangenes tydens die deursoekingsoperasie nie hulle samewerking wou gee nie en hulle teëgesit het.
Die nasionale kommissaris van korrektiewe dienste (DKD), Makgothi Samuel Thobakgale, het by navraag die operasie op 6 Augustus bevestig. Hy het verduidelik dat gevangenes in Kamer 005 van A-afdeling aanvanklik geweier het dat hul kamer deursoek word. Met ingryping het bewaarders toegang verkry en met die operasie voortgegaan.
Spanning het egter toegeneem namate sommige oortreders weerstand gebied het, maar die situasie is gestabiliseer en is die deursoeking voltooi. Verskeie verbode items, insluitend selfone en dwelms, is gekonfiskeer.
Donderdagoggend omstreeks 07:55, tydens die oggend se oopsluit, het gevangenes van Kamer 005 volgens Thobakgale 'n "voorbedagte en gewelddadige aanval" op bewaarders geloods. Op daardie tydstip was 18 bewaarders aan diens.
Die Vereniging van Staatsamptenare (PSA) het hul kommer uitgespreek en bevestig dat die aanval vooraf beplan was. In 'n verklaring het die PSA die voorval sterk veroordeel en herhaal dat personeeltekorte by korrektiewe fasiliteite 'n groot risiko vir bewaarders inhou, veral tydens hoërisiko-operasies soos deursoekings.
Die PSA meen die DKD worstel met 'n kritieke personeeltekort, hoofsaaklik as gevolg van onvoldoende befondsing en 'n gebrek aan opleidingsfasiliteite. Die vakbond beplan om formeel aan die minister van finansies te skryf om dringende prioritisering van fondse te versoek vir die werwing en opleiding van nuwe personeel.
"Indien die krisis nie aangespreek word nie, sal die DKD se vermoë om oorbevolking te bestuur, geweld te voorkom en die herintegrasie van oortreders te ondersteun, verder verswak," lui die verklaring. Die PSA het ook aangedui dat sielkundige ondersteuning en trauma-berading aan die beseerde bewaarders en hul gesinne verskaf moet word.
Minister van korrektiewe dienste, Pieter Groenewald, het benadruk dat geen gevolgtrekkings oor die oorsaak of moontlike tekortkominge in sekuriteit gemaak kan word voordat die ondersoek voltooi is nie.
Groenewald het bevestig dat die betrokke gevangenes na enkelselle verskuif is hangende tugoptrede en dat alle aktiwiteite en besoeke tot verdere kennis opgeskort is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’