OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen ‘n soldaat verbonde aan die Oudtshoorn Infanterieskool, wat van moord en aanranding aangekla word, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof vir ‘n tweede borgtogaansoek tot 12 November uitgestel.
Kgamotso Tsime (32) word van moord op die 39-jarige Patrick Brocklebank,‘n pa van drie kinders, aangekla en is vroeër die jaar borgtog geweier. Brocklebank is die aand van 22 Desember 2023 in Nuwestraat met ‘n skerp voorwerp gesteek nadat hy en die verdagte glo in ‘n woordewisseling was.
Tsime is kort na die voorval in hegtenis geneem en het op Woensdag 3 Januarie vanjaar vir die eerste keer in die hof verskyn.
Hy word ook daarvan aangekla dat hy op 4 Oktober 2022 sy meisie aangerand het deur haar te wurg.
Die saak dien voor streeklanddros Ntsoki Moni en is vir die reëling van ‘n datum vir ‘n tweede borgtogaansoek, en in ‘n ander hof, tot 12 November uitgestel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’