OUDTSHOORN NUUS - Shaun Romano Keyser (29) van Prins Albert is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof tot 20 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan die verkragting en moord op die 55-jarige Anna Abrahams in 2012.
Keyser het op 11 Februarie 2012 die misdrywe naby 'n smokkelkroeg in Buitekantstraat, Prins Albert gepleeg.
Hy is eers twaalf jaar later, in 2024, aan die gruwelmisdade verbind toe sy DNS ná 'n onverbinde arrestasie vir 'n ander misdaad hom aan die voorval verbind het.
Volgens Eric Ntabazalila, nasionale streekkommunikasiebestuurder van die nasionale vervolgingsgesag, het Keyser tydens die verhoor beweer dat hy deur twee ouer mans gedwing is om die vrou te verkrag. Hierdie weergawe is egter deur die hof as ongeloofwaardig verwerp nadat DNS-resultate slegs sy genetiese materiaal op die slagoffer se liggaam bevestig het.
Volgens die saakdossier is Abrahams se liggaam destyds agter die kroeg in die dorp gevind. 'n Nadoodse ondersoek het aanvanklik bevind dat sy aan alkoholvergiftiging oorlede is, maar 'n tweede mediese opinie het nuwe lig op die saak gewerp.
Ntabazalila sê streekhof-aanklaer, Hyron Goulding, was ontevrede met die dokter se bevindinge oor die oorsaak van dood na die bestudering van die dossier, en het dr. Mariette Hurst vir 'n tweede opinie genader.
Die vorige dokter het die oorsaak van dood as alkoholvergiftiging bepaal omdat die oorledene se bloedalkoholinhoud baie hoog was.
Wyle Anna Abrahams. Foto: Garnett Wicomb
Goulding het Hurst gevra of die oorledene met dié hoë alkoholvlak toestemming tot seks kon gee en of daar enige bewyse is dat die oorsaak van dood moontlik moord kon wees. Sy het bevind dat met die hoë alkoholvlak die oorledene baie dronk of in 'n koma kon wees en dus nie toestemming tot seks kon gee nie.
Sy het ook bevind dat Abrahams bloeding aan die hart en longe gehad het, 'n aanduiding dat sy versmoor het terwyl sy met haar gesig na onder gelê het terwyl sy verkrag is.
"Hierdie bevinding het die staat se saak versterk en gehelp om die beskuldigde se weergawe te weerlê. Goulding het aangevoer dat die gemeenskap verwag dat die howe streng optree teen ernstige misdade soos dié."
Die vonnis
Streeklanddros Ntsoki Moni het Keyser tot tien jaar gevangenisstraf vir verkragting en tien jaar vir moord gevonnis, en hom onbevoeg verklaar om ooit 'n vuurwapen te besit.
Adv. Nicolette Bell, Wes-Kaapse direkteur van openbare vervolging, het die ondersoekspan en vervolgingspan geloof vir hul volgehoue toewyding.
"Hierdie skuldigbevinding en vonnis is 'n bewys dat toegewyde speurwerk en DNS-tegnologie geregtigheid kan bring, selfs jare ná 'n misdaad," het sy gesê.
Abrahams se dogter, Marita Abrahams, het in 'n emosionele verklaring die hof versoek om Keyser swaar te straf.
"My ma het nie verdien om só te sterf nie," het sy gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’