OUDTSHOORN - Sewe mense is die afgelope naweek in Oudtshoorn in hegtenis geneem as deel van die polisie se poging om die gemeenskappe dwelmvry te kry.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, het die polisie ’n totaal van 73 verdagtes in die Suid-Kaap vanaf Vrydag 23 Mei tot Sondag 25 Mei in hegtenis geneem.
Die polisie het agt verdagtes in hegtenis geneem vir dwelmhandel en 65 vir die besit van dwelms.
Die meeste van die arrestasies is in Knysna (24), George (11), Oudtshoorn (7) en Conville (7) uitgevoer. Die polisie het klein hoeveelhede Mandrax, tik en dagga gekonfiskeer.
Spies sê die beamptes het verskeie intelligensie-gedrewe operasies begin wat gemik was op vyf huise bekend as dwelmwinkels in Knysna.
“Die waaksaamheid van die lede het gelei tot die arrestasie van drie vroue en twee mans tussen 25 en 42 jaar oud op aanklagte van dwelmhandel. Klein hoeveelhede tik en mandrax tablette is tydens hierdie arrestasies gekonfiskeer.”
Die verdagtes bly in aanhouding en sal die week in die onderskeie howe verskyn. Hulle staan tereg op aanklagte van dwelmhandel en besit van dwelms.
Die Wes-Kaapse polisiebestuur het die lede geprys vir hul waaksaamheid om vuurwapens van die strate te verwyder en gemeenskappe van dwelms ontslae te raak.
Hierdie optrede is in lyn met die polisiëringsbenadering van die provinsie om kwesbare gemeenskappe te beskerm.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’