OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen ’n man van Ladismith, wat aangekla word van moord en poging tot moord, is Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof na die slotargumente van die staat en die verdediging, vir uitspraak tot 11 Desember uitgestel.
Johan Guza (32) pleit onskuldig op die aanklagte dat hy op ou Kersdag 2023 ’n buitelandse spazawinkeleienaar doodgesteek, en sy vennoot in die rug, skouer en knie gesteek het.
Volgens Teshalei Africho het die oorledene hom te hulp gesnel toe Guza hom aangeval het. Guza het die oorledene toe een keer in die bors gesteek en hy is op die toneel dood.
Africho ontken dat hy Guza eerste gesteek, of met ’n yster geslaan het, soos wat die beskuldigde beweer.
Die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, versoek die hof om Guza op albei aanklagte skuldig te bevind omdat hy sy weergawe van wat gebeur het voortdurend aanpas.
Guza se regsverteenwoordiger, Magaretha Aucamp van die Regshulpraad, sê die klaer in aanklag twee was nie ’n goeie getuie nie en dat die staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys het nie.
Streeklanddros Daniel Boks het die saak vir uitspraak in die Ladismith-streekhof tot 11 Desember uitgestel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’