OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen ’n bewaarder van Korrektiewe Dienste, wat na bewering sy vrou aangerand het, is in die Oudtshoorn-streekhof tot 27 Maart vir aanhoor voor ’n ander landdros uitgestel.
Hy staan tereg op aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer en opsetlike saakbeskadiging.
Roegelin Campher (40) word daarvan beskuldig dat hy sy vrou op 16 Maart 2025 glo aangerand en haar motor beskadig het.
Borgtog is aanvanklik in die landdroshof aan hom geweier nadat dit aan die lig gekom het dat hy voorheen beskermingsbevele en borgtogvoorwaardes verontagsaam het.
Landdros Stephanie Strydom het tydens sy eerste borgtogaansoek opgemerk dat daar ’n duidelike geskiedenis van geweld in die verhouding bestaan, met die jongste klagte die vierde voorval binne agt maande.
Campher het aangedui dat hy onskuldig op die aanklagte sal pleit.
Tydens ’n tweede borgtogaansoek, wat op nuwe feite berus het, is borgtog van R2 000 aan hom toegestaan, onderhewig aan streng voorwaardes. Sommige van dié voorwaardes is later deur streeklanddros Daniel Boks verander.
Die saak is tot 27 Maart uitgestel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’