LADISMITH NUUS - Die stryd om dwelmsmokkelary uit te roei het ’n groot hupstoot gekry nadat die streekhof in Ladismith ’n dwelmsmous op Donderdag 2 Oktober agt jaar tronkstraf opgelê het nadat hy vroeër op aanklag van dwelmhandel skuldig bevind is.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het lede van die Ladismith-misdaadvoorkomingseenheid op 6 Junie 2024 ’n voertuigkontrolepunt langs die R62 tussen Ladismith en Barrydale uitgevoer.
“Die lede het inligting ontvang oor ’n silwer Toyota Etios wat met ’n besending dwelms vanaf Kaapstad na Ladismith op pad was. Hierdie voertuig is opgemerk en voorgekeer. ’n Deursoeking is gedoen en die dwelms is in die stuurwielkompartement van die voertuig gevind.”
Die lede het 95.26 gram tik en 500 Mandrax-tablette met ’n straatwaarde van R58 000 gekonfiskeer. Die polisie het ook op die voertuig beslag gelê en vyf insittendes in hegtenis geneem.
Een van die insittendes, Royston Rayners (34), is skuldig bevind op aanklag van dwelmhandel. Hy is tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis, waarvan vier jaar vir vyf jaar met voorwaardes opgeskort is. Die beskuldigde is verder tot ’n boete van R25 000 of vyf jaar gevangenisstraf gevonnis.
Die saak teen drie ander insittendes is teruggetrek terwyl die vierde verdagte oorlede is.
Die voertuig wat in die pleging van die misdryf gebruik is, is aan die staat verbeurd verklaar.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’