OUDTSHOORN NUUS - Vinnige optrede van Oudtshoorn se misdaadvoorkomingseenheid het Dinsdag 12 Augustus gelei tot die arrestasie van 'n 38-jarige man en die beslaglegging op dwelms ter waarde van sowat R21 000.
Die voorval het net buite Oudtshoorn op die N12, aan die George-kant, plaasgevind.
Sersant Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het bevestig dat lede omstreeks 12:30 op inligting oor onwettige aktiwiteite gereageer het.
Volgens hom het die lede 'n man opgemerk wat by 'n stilhouplek uit 'n voertuig klim.
"Hulle het die man genader en tydens die deursoeking het hulle 'n nagemaakte vuurwapen, 'n ronde ammunisie en 60.32 gram tik in sy besit gevind. Hulle het die items gekonfiskeer en die man vir die besit daarvan in hegtenis geneem."
Hy word aangekla van die besit van 'n verbode vuurwapen, onwettige besit van ammunisie en handel in dwelms. Hy bly in aanhouding en sal binnekort in die hof verskyn.
Die Tuinroete-distrikskommissaris, generaal-majoor Phumzile Cetyana, het die span geprys vir hul vinnige en doelgerigte optrede wat tot die konfiskering van die onwettige besittings gelei het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’