OUDTSHOORN NUUS - 'n Pa van tien kinders van Calitzdorp wat tereg gestaan het op aanklag van poging tot moord, maar aan aanranding skuldig bevind is, is in die Oudtshoorn-streekhof 'n stywe boete opgelê en onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
Ellute Coerecius (43) is daarvan aangekla dat hy sy vrou geklap, gewurg en rondgestoot het.
Hy het onskuldig gepleit op die hoofklagte, maar wel skuldig aan gewone aanranding.
Streeklanddros Ntsoki Moni, het Coerecius behoorlik die leviete voorgelees en gesê gelukkig vir hom, is hy nie aan poging tot moord skuldig bevind nie.
Sy regsverteenwoordiger, adv. Benito Metembo, het die hof versoek om in ag te neem dat hy skuldig gepleit het, en sy vrou nie enige beserings opgedoen het nie.
Die staatsaanklaer, Mervan Saaiman, het beklemtoon dat hy aan 'n ernstige misdryf skuldig bevind is wat besig is om handuit te ruk. Vonnisse moet gevolglik opgelê word wat ook andere sal afskrik.
Coerecius is gevonnis tot 'n boete van R10 000 of tien maande gevangenisstraf waarvan R8 000 of agt maande gevangenisstraf voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’