OUDTSHOORN NUUS - Lede van die Dysselsdorp-polisie het die naweek bontgestaan na 'n oproerige man twee polisiebeamptes met 'n mes gesteek het.
Die beamptes het 'n klag van gesinsgeweld bygewoon toe die verdagte, na wat verneem word, oproerig geraak en die beamptes gesteek het.
Die verdagte is later met rubberkoeëls geskiet voor hy sy wapen neergesit en hom aan die polisie oorgegee het.
Die nuus dat hy slegs 'n paar dae later op waarskuwing deur die hof vrygelaat is, is met skok en ongelooflik deur die gemeenskap begroet.
Dié insident het Saterdag 17 Augustus in Mentoorstraat begin toe beamptes uitgeroep is oor 'n man wat oproerig was by sy ouma se huis.
Volgens die verdagte se ouma, was haar kleinseun glo moeilik en het hulle die polisie gebel.
"Hy het kwaad geraak en het toe die polisiemanne met die mes gesteek. Die een is in die hand gesteek en die ander het nie baie seer gekry nie. Ek weet nie presies of en waar hy gesteek is nie."
Sy het vertel dat die polisie twee waarskuwingskote in haar erf afgevuur het en dat haar kleinseun daarna weggehardloop het.
Van hier het die verdagte omtrent 'n blok verder gehardloop terwyl die polisie hom agternagesit het.
Voertuie met klippe gegooi
Volgens 'n onberispelike bron het die verdagte die voertuie met klippe gegooi en toe skielik by 'n erf in Corkiestraat ingehardloop.
Dié huiseienaars, Priscilla April en Calvin Gelant, vertel dat hulle hulself boeglam geskrik het toe die man, gewapen met 'n mes, by hul voordeur ingehardloop het.
"Ons kinders was in die kamer. Hy het sommer na mense in die huis begin steek. Gelukkig is niemand beseer nie."
Gelant sê die kinders wat in die kamer was het uit vrees by die kamervenster uitgespring.
"Die polisie het probeer om hom te arresteer, maar hy was te oproerig. Ek en nog 'n beampte het die kleintjies deur die venster getel en toe skiet die polisieman hom met rubberkoeëls deur die venster."
Volgens Gelant het dit 'n hele paar skote met die rubberkoeëls gekos voor die man sy mes neergegooi en homself oorgegee het.
April vertel dat haar huis onder bloed was na die voorval omdat die verdagte se oog en hand in die voorval beseer is.
"Mens is maar bang wanneer so iets gebeur. Dit was net skokkend dat hy niks omgegee het vir die kinders in die huis nie."
Die verdagte is in die hospitaal vir sy beserings behandel en het Maandag in die hof verskyn.
Sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê dat die verdagte op aanklagte van diefstal, twee van aanranding met die opset om ernstig te beseer, sowel as 'n klag van beskadiging van eiendom in hegtenis geneem is.
Tydens Oudtshoorn Courant se besoek Dinsdag aan die ouma se huis, het die verdagte weer by sy ouma se huis opgedaag.
Volgens inligting wat deur Oudtshoorn Courant bekom is, het die hof die verdagte op waarskuwing vrygelaat en moet hy op 10 September in die hof verskyn.
Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, het bevestig dat hy op waarskuwing vrygelaat is weens die erns van sy beserings en omdat sy arm waarskynlik gebreek is. Volgens hom is die ondersoek steeds aan die gang is.
Ander saak
Ntabazalila het ook bevestig dat die verdagte Dinsdagaand op nog 'n lasbrief in hegtenis geneem is. Die lasbrief hou verband met 'n ander saak waarvoor hy in die hof moes verskyn, maar nie het nie.
Die verdagte moes Woensdag 21 Augustus hiervoor in die hof verskyn.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’