OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn Community Against Crime (OCAC), onder leiding van Leon Campher en sy medewerkers, doen 'n besondere werk in die dorp. Die groep bied ondersteuning, advies en bystand aan families wat geraak is deur misdaad.
Volgens Campher, die dryfveer agter die inisiatief, is hy reeds jare betrokke in die geveg teen misdaad in Oudtshoorn.
"Na die onsinnige moord op 'n jong rugbyspeler in Februarie 2023 het ek besef dat die gemeenskap meer betrokke moet raak sodat misdaad daadwerklik aangespreek en verminder word. Hierna het ons OCAC gestig en belangstellendes vanuit die gemeenskap het met Oudtshoorn-polisie en die departement van justisie vergader om as rolspelers die kwessie te bespreek."
Volgens Campher het hul hierna elke Sondag op verskillende plekke in Oudtshoorn opelugdienste gehou waar OCAC aan die gemeenskap bekendgestel is.
"Gedurende hierdie dienste het ons ook die gemeenskap genooi om by ons WhatsApp-groepe aan te sluit waar inwoners misdaad kan aanmeld."
Hoewel OCAC gedurende die stigtingsjaar 25 families van moordslagoffers ondersteun het, het hulle ook later uitgereik na inwoners wat families skielik aan die dood moes afstaan in gevalle van brande, ongelukke en verdrinkings. Aan die einde van 2023 is gesamentlik 47 families ondersteun.
Campher noem dat deur gebede en versoeke het heelwat minder voorvalle in 2024 voorgekom, met slegs 12 moorde en gesamentlik 25 kransleggings.
"Ons ondersteun ook hierdie families tydens die betrokke hofsake en beoog hierdie jaar om met alle ander rolspelers uit te reik na gemeenskappe om te praat oor misdaad met die klem op geweld teen vroue en kinders. Die moorde en voorvalle waarna ek in my statistieke verwys is nie getalle wat op rekord is by Oudtshoorn-polisie nie, maar slegs waar OCAC betrokke was."
Vir Campher is dit hartseer dat in die eerste 17 dae van hierdie jaar daar reeds twee moorde en een kranslegging was.
"Daar mag meer sterftes wees. In die meeste gevalle kontak die familie of vriende van slagoffers my waarna ons begin om hulle die nodige ondersteuning te bied. Gevalle wat ons meestal mis is wanneer 'n persoon na 'n voorval in die hospitaal sterf, maar met onmiddellike sterftes word ons dadelik gekontak."
Hy beklemtoon ten sterkste dat OCAC nie daar is vir politiek nie, en ook nie vir 'n spesifieke kerk nie, maar uit en uit daar is om die gemeenskap in tyd van rou en seer te ondersteun. "Daarom rig ons altyd 'n versoek aan inwoners om ons te ondersteun om sodoende misdaad in Oudtshoorn aan te spreek."
2024 statistieke waarby OCAC betrokke was
Campher het die volgende statistieke deurgegee van voorvalle in 2024 waar hulle as 'n organisasie 'n kranslegging ter nagedagtenis van die oorledene gehou het. Volgens Campher is enige statistiek onaanvaarbaar en is dit tyd dat die gemeenskap begin saamstaan om misdaad in Oudtshoorn hok te slaan.
- Ashrodeen 'Essie' Armstrong (27), 2 Januarie, ongeluk, kranslegging.
- Duwaine Tiemie (27), 6 Januarie, moord, kranslegging.
- Jan Olkers, 12 Januarie, moord.
- Wilfred Olifant (27), 28 Januarie, moord, kranslegging.
- Liugi Julies (21), 3 Maart, onnatuurlike dood, kranslegging.
- Flip Henrdicks (57), 8 Maart, moord, kranslegging.
- Kaylee-Ann (27), Windvogel, 9 Maart, moord, kranslegging.
- Henrico Plaatjies (38), en Maritza Plaatjies (28), 29 Maart, ongeluk, kranslegging.
- Hanneline Plaatjies (37), 23 Maart, tref en trap, kranslegging.
- Bettie Tities (73), en twee kleinkinders Suzaan Tities (10), Nicole Tities (4) en 'n agterkleinkind, Chloe Titus (4), 12 April, Nelsrivier brand, kranslegging.
- Jan 'Dok' Samson (83), 16 April, skielik gesterf, kranslegging.
- Mlungisi Stwayi (18), 20 April, moord, kranslegging.
- Melilison Barnard (21), 24 Mei, ongeluk.
- Johnny Blom, 27 Julie, moord.
- Katriena Goliath (36), 5 Augustus, moord, kranslegging.
- Willem Potgieter (26), 15 Augustus, skielik gesterf, kranslegging.
- Ashwin Jonkerman (7), 11 September, moord.
- Anthony Wessels (19), 14 September, moord, kranslegging.
- Pieter Mawona (54), 29 September, Dassieweg, moord (broer).
- Cliffie Karelse (25), 10 Oktober, ongeluk: kranslegging.
- Leroy 'Lielie' Roman (17), 12 Oktober, verdrinking, Dysselsdorp, kranslegging
- Thobile Booysen (45), en Spheshile Witbooi (8), 2 November, GG Kamp brand, kranslegging.
- PJ Sauls 8 November (24), ongeluk, Voortrekkerweg, kranslegging.
- Nehemiah Jacobs (13), 8 November, Karoo Valley Farms, verdrinking, kranslegging.
- Lynniqe Ambrozé October (23), en Adrian Grant Peter Fortuin (39), 23 November, ongeluk, kranslegging
- Nichlas Carelse (39), 3 Desember, Buffelsdrift, hartaanval, kranslegging.
- Pedro Witbooi (26), 4 Desember, Schoemanshoek, ongeluk, kranslegging.
- Petrus Konstabel (53), 31 Desember, BP Garage, skielik gesterf, kranslegging.
2025
- Rolin Bronwin Gertze (3), 9 Januarie, Dysselsdorp, omgery, kranslegging.
- Ronaldo Filander (19) ,18 Januarie, Mullerstraat, Askamp, Bridgton, moord, kranslegging.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’