OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van Kgamotso Tsime (32) 'n soldaat verbonde aan Oudtshoorn Infanterieskool, wat van moord en aanranding aangekla word, is uitgestel.
Die saak sou Dinsdag 17 Junie in die streekhof begin, maar moes uitgestel word omdat die betrokke landdros weens siekte nie by die hof kon wees nie.
Tsime word van moord op Patrick Brocklerbank (39), 'n pa van drie kinders, aangekla. Brocklerbank is die aand van 22 Desember 2023 in Nuwestraat met 'n skerp voorwerp gesteek nadat hy en die verdagte glo in 'n woordewisseling was. Tsime is kort na die voorval in hegtenis geneem en het op Woensdag 3 Januarie 2024 vir die eerste keer in die hof verskyn.
Hy word ook daarvan aangekla dat hy op 4 Oktober 2022 sy meisie aangerand het deur haar te wurg.
Hooflanddros Ryan van Harte het die saak Dinsdag voorlopig tot komende Maandag, 23 Junie, uitgestel. Tsime bly in aanhouding.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’