OUDTSHOORN NUUS - Bramwill Baliso (31), wat by twee geleenthede sy 55-jarige ma aangerand en met die dood gedreig het, is in die Oudtshoorn-streekhof vir vyf jaar tronk toe gestuur omdat enige ander vonnis onvanpas sal wees.
Baliso het op 8 Desember 2023 sy ma geslaan en haar op 11 Junie 2024 met ’n klip gegooi.
Hy het skuldig gepleit en in sy pleitverduideliking erken dat hy in albei gevalle dagga gerook en dronk was.
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging van Baliso gesê dit is skandelik om jou eie ma aan te rand en totaal onaanvaarbaar.
“Daar word altyd gesê niemand mors met my ma nie, maar die beskuldigde rand sy eie ma aan. Wanneer gaan dit eindig?” wou die landdros weet.
Die hof het bevind dat ’n opgeskorte vonnis of selfs ’n korrektiewe vonnis nie gepas sal wees nie en die hof kan nie wag totdat Baliso sy ma doodmaak nie.
“Bramwull Baliso kan ook nie net ’n tikkie op die skouer verwag nie. Die gemeenskap kyk op na die howe, en vonnisse moet opgelê word wat sal verhoed dat gemeenskapslede die reg in eie hande neem,” het die landdros gesê.
Die hof het die twee aanklagte vir vonnis saamgeneem en Baliso tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’