OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Rosebank in Oudtshoorn, wat aan seksuele aanranding skuldig bevind is, is verlede week in die streekhof vir drie jaar in huisarres geplaas en 'n opgeskorte vonnis van vyf jaar opgelê.
Steven Piedt (38) se weergawe dat hy nie die betrokke aand op die toneel was waar die voorval plaasgevind het nie, is deur die hof verwerp.
Drie staatsgetuies het getuig dat hy wel die aand by die woning van 'n vriend was en die klaer, ’n getroude vrou, betas het.
Volgens Piedt was hy die aand by die woning van 'n ander vriend en is daarvandaan huis toe waar hy gesien het dat daar 'n inbraak was. Hy en sy vriend het 'n vaste afspraak om elke Vrydagaand saam te kuier, het hy getuig. Die vriend het dit in sy getuienis bevestig.
Streeklanddros Daniel Boks het Piedt se alibi verwerp en gesê getuienis voor die hof plaas hom op die toneel.
Die staatsaanklaer, het die hof meegedeel dat die klaer 'baie ongelukkig en baie kwaad' is vir die beskuldigde. Haar man het gedreig om die reg in eie hande te neem. Die hof het bevind dat Piedt geen teken van berou toon nie en hom nog 'n kans buite die tronk gegee. Hy is gemaan om die geleentheid met beide hande aan te gryp.
Daar is geen bewyse voor die hof dat die getuies hom valslik sal beskuldig nie.
Hy is vyf jaar tronkstraf opgelê wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is, asook drie jaar korrektiewe toesig wat behels 24 uur per dag in huisarres behalwe vir werk- en kerkdoeleindes.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’