OUDTSHOORN NUUS - 'n Onsinnige moord het Saterdag 14 Maart by GG-kamp in Oudtshoorn plaasgevind nadat 'n 59-jarige man gestenig is.
Willem Goliath was onderweg na 'n begrafnis toe die voorval gebeur het.
Adjudant-offisier Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig.
"Omstandighede rondom die voorval word tans deur Oudtshoorn-polisie ondersoek nadat 'n 59-jarige man aan sy beserings in die hospitaal beswyk het. Inligting beskikbaar toon dat die man met beserings aan sy kop naby Bongolethu gevind is waarna hy na die hospitaal geneem is. Die verdagte is nog op vrye voet en enigeen wat meer inligting het word gevra om met Oudtshoorn-polisie kontak te maak."
Oudtshoorn Courant het die verpletterde Goliath-familie Maandagmiddag, 16 Maart, besoek. Volgens die familie is hulle nog in skok na die voorval.
"Spaas Goliath, Willem se weduwee, vertel dat iemand haar dogter Theresa, laat weet het dat hul pa by die kanaal lê.
"Ons weet net hy is uit die bloute met klippe gegooi waarna hy sy balans verloor en van die wal af geval het. Die aanvaller het na bewering toe nog 'n klip na hom gegooi wat sy kop getref het. Al wat ons weet is dat daar bloed by sy ore en neus uitgekom het en my dogter kon hom nie wakker kry nie."
Die familie is net na 21:00 Saterdagaand deur die hospitaal in kennis gestel dat hy aan sy beserings beswyk het.
'n Tweede persoon wat na bewering ook met klippe gegooi is sterk volgens die familie in die hospitaal aan, daar word gehoop dat hy die polisie sal kan bystaan om die verdagte uit te ken.
Indien jy enige inligting het wat die polisie kan help om die verdagte te arresteer, kontak 044 203 9000 of Crime Stop by 08600 10111.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’