OUDTSHOORN NUUS - 'n Kommerwekkende tendens het nou in Oudtshoorn kop uitgesteek met persone wat Wi-Fi-sekuriteitskameras by huise afsteel.
'n Hele paar insidente is reeds aangemeld. Een persoon is die afgelope week in Jan van Riebeeckweg deur Suiderkruis Sekuriteit vasgekeer en aan die polisie oorhandig vir arrestasie. Die persoon is tans in aanhouding.
Volgens Donovan Kleinhans moet huiseienaars bedag wees op die tendens. Tans weet die polisie en buurtwag nie waarom die kameras afgesteel word nie aangesien daar nie 'n mark daarvoor is nie.
Dit blyk of daar ongeveer 12 Wi-Fi-sekuriteitskameras by woonhuise in die dorp gesteel is.
Volgens Kleinhans kan die tipe kameras maklik uitgeken word deur hul antennas.
"Die swakpunt van die tipe kameras is dat dit 'n SD-kaart bevat wat binne die kamera self sit. Sodra die kamera gesteel word is al jou foto's en video's weg. Daar is baie in Wesbank gesteel, maar daar was ook gevalle in Oudtshoorn-Suid en by 'n besigheid in die sentrale sakekern. Jan van Riebeeckweg blyk ook 'n teiken te wees."
Daar is 'n vermoede dat daar wel 'n aankoper moet wees vir die tipe kameras en dat die persone wat dit steel presies weet watter sekuriteitskameras om te teiken. Volgens Kleinhans was daar ook reeds voorvalle in woongebiede waar groot groepe mense ingestuur word om kameras te steel, juis omdat iemand die kameras bemark en verkoop.
"Daarby is dit ook moontlik dat die kameras gesteel word sodat misdaad ongemerk kan voortgaan. Daar is nou reeds vier sake by Oudtshoorn-polisie geopen."
Oudtshoorn Courant het 'n medianavraag aan Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, gestuur, maar teen druktyd is nog geen kommentaar ontvang nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’