OUDTSHOORN NUUS - Die korrektiewe vonnis, wat ‘n man van Dysselsdorp opgelê is vir aanranding, is in die Oudtshoorn-streekhof omskep in ‘n vonnis omdat hy tans in aanhouding is op nog ’n klagte.
Comra Sammy (32) is op Dinsdag 20 Augustus saam met Godwin Coerecius, ‘n taxieienaar van Calitzdorp, daaraan skuldig bevind dat hulle op 8 Desember 2023 vir Dyllan Stuurman met die vuiste geslaan, op die grond neergegooi, geskop en op hom getrap het, en ook sy hande op ‘n klein stofie gebrand het.
‘n Klagte dat hulle ook vir Stuurman in ‘n sleepwaentjie gelaai en na Oudtshoorn en terug na Dysselsdorp gery het, is deur die staat teruggetrek.
Sammy se korrektiewe toesigvonnis is deur streeklanddros Daniel Boks omskep in ‘n vonnis van vyf jaar gevangenisstraf ingevolge wetgewing wat bepaal dat hy na die uitdiening van ’n sesde daarvan (tien maande), op bepaalde voorwaardes vrygelaat kan word.
‘n Beampte van korrektiewe dienste het Maandag getuig dat dit onmoontlik vir Sammy is om die voorwaardes vir korrektiewe toesig na te kom omdat hy in aanhouding is vir ‘n saak waarvoor hy tans verhoorafwagtend is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’