OUDTSHOORN NUUS - Die 24-jarige Beau Stelero Roman, wat ’n jong pa van Oudtshoorn in opdrag van sy pa met ’n mes in die nek gesteek het, is Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof aan moord skuldig bevind en tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis nadat die hof versagtende omstandighede gevind het om af te wyk van die voorgeskrewe minimum vonnis van vyftien jaar vir moord.
Roman sê in ’n pleitverduideliking waarin hy skuldig pleit dat hy die betrokke aand, 30 Oktober 2021, die 23-jarige John-Lee Johnson in ’n winkel in Dassieweg, Bridgton, een keer met ’n mes gesteek het.
ArtiVolgens hom het Johnson en sy vriende hom die vorige aand aangerand en onder meer met ’n graaf geslaan.
Hy wou toe van Johnson weet waarom hulle dit gedoen het en hom met die mes gesteek.
Die staatsaanklaer, Mervan Saaiman, het die hof versoek om nie van die minimum vonnis af te wyk nie.
Volgens hom is Roman deur sy pa beïnvloed en aangemoedig om die misdaad te pleeg, maar hy anders kon besluit het. Die hof moet met vonnis ’n boodskap uitstuur dat dié soort optrede nie geduld kan word nie.
Roman se regshulpprokureur, Ayanda Silumko, het die hof versoek om sy ouderdom én die feit dat hy skuldig gepleit het, vir vonnis in ag te neem. Hy was slegs 20 jaar oud toe die voorval plaasgevind het, en het volgens hom die familie van die oorledene om verskoning gevra.
Johnson se pa, Jonathan Moos, het egter ontken dat Roman vir hom of sy familie om verskoning gevra het. Sy seun se dood laat ’n groot leemte met twee kinders wat nou sonder ’n pa moet groot word. Hy het egter vir Roman vergewe. Volgens hom het Roman aan hom gesê dat sy pa sy toekoms opgemors het en geen vonnis sy seun sal terugbring nie.
Streeklanddros Ntsoki Moni, het wel wesenlike en dwingende omstandighede bevind om van die minimum vonnis van 15 jaar af te wyk.
”’n Jong man se lewe is geneem en ek weet nie wat om met die jong mense te doen om hulle te verhoed om dié dinge te doen nie,” het die landdros gesê.
Die hof het gelas dat Roman sy vonnis van agt jaar in die Drakenstein korrektiewe sentrum uitdien waar hy ’n ambag van sy keuse moet aanleer. Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’